25 dae gelede
Kulsen lewe vir fietsry
GEDUGTE SPAN: Elrick Kulsen en Ersnt van Dyk in 2014 ná ’n suksesvolle handfietswedren op die UCI Wêreldkampioenskapsbyeenkoms.  ~ Foto Verskaf

SY LIEFDE en daaropvolgende bekendheid as ’n plaaslike fietsrylegende is alles te danke aan twee van die bekendste fietsrygeleenthede wat oor die feestydperk in die Paarl aangebied word.

Elrick Kulsen (57) vertel hy onthou dit amper asof dit nog gister was toe hy saam met sy pa, wyle Eddie Kulsen, na die Faurestraat-sportterrein gegaan het om na die Tweede Kersdag-fietswedrenne en Nuwejaarswedrenne te gaan kyk.

Sy pa was destyds ’n vryskutjoernalis vir Die Burger Metro/Ekstra en Kulsen het gereeld saam met hom na Kimberley gereis vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Baanfietsrykampioenskapsbyeenkoms.

“Ons as gesin het altyd saamgereis en die ryers wat daar deelgeneem het, was bekendes soos Steven Benjamin, Boet Jantjies, Arend Davids en Baron Williams. Ek het altyd gehoop om eendag soos hulle te wees,” vertel Kulsen aan Son.

Dit was toe ná een so ’n trippie na die dorp met die Groot Gat dat Kulsen sy eerste fiets van sy pa as ’n geskenk ontvang het.

“Die gogga vir fietsry het toe behoorlik begin byt en voor daai Kimberley trip het ek amper elke Tweede Kersdag- en Nuwejaarswedren bygewoon om manne soos Tim Theart, Eddie Kriel, Steve­ Viljoen en Butch Webber in aksie te sien. Tweede Kersdag bly maar sinoniem met fietsry hier in die Paarl. As fietsryer was dit een van die groot byeenkomste om na uit te sien.”

Kulsen se groot helde was egter Jackson en Jantjies, terwyl hy ook ’n sagte plek in sy hart het vir Naaim de Vos. Dié Paarliete se stryd met die Worcester-ryers Ben Saunders, Anwar Ismail en Bennie Solomons en Kaapse ryers Reggie Cloete, Sam Davids en Brian Newman was altyd vir hom ’n plesier om te aanskou.

Voorbereiding

Internasionaal het hy Eddy Merckx bewonder.

“Baanfietsry was maar altyd my gunsteling, hoewel ek redelik kompeterend was op die pad ook,” sê Kulsen.

“Gewoonlik het ek die padwedrenne gebruik as voorbereiding vir die baan. Wanneer ek nie aan kompetisies deelgeneem het nie, het ek gery om net die natuurskoon te geniet. Daar is geen beter plek om te ry as tussen die Paarl se wingerde en natuurskoon nie.”

Kulsen sê die hoogtepunt in sy loopbaan was toe hy in 1986 in Bloemfontein die eerste bruin Springbok in die baanfietsryspan was.

Ander hoogtepunte was toe hy die SA Madison-titel saam met sy spanmaat Soppie Nackerdien gewen het. Hy het ook in die tandem naelry saam met Leon Jonker sukses geproe.

GANS TE VINNIG: Kulsen heel voor in ’n wedren in die Paarl. Foto: Verskaf

Maar Kulsen het nooit aan ’n internasionale kompetisie deelgeneem nie, al het hy oorsee gereis en die voorreg gehad om saam met lede van die Duitse fietsryspan te oefen.

“As afrigter het ek wel die ervaring geniet om deur Europa te reis. Duitsland is een van my gunsteling-lande, vir die goeie kos en die beste bier, natuurlik,” skerts hy.

“Hul organisering van wedrenne is baie professioneel. ’n Ander gunstelingland is Spanje, vir sy skouspelagtige plekke waar wedrenne gehou is, met een van die wedrenne se hoofkwartier wat ’n kasteel was.”

In sy loopbaan as afrigter het Kulsen al ’n hele paar bekendes en minder bekendes suksesvol in fietsry af­gerig. Sy ryers is veral kampioene in die Tweede Kersdag-byeenkomste.

Sy susterskind Garth Thomas spog met drie Tweede Kersdag-titels, terwyl Nolan Hoffman, wenner van die Kaapstad Fietsrytoer, reeds agt keer as kampioen gekroon is.

Bewonder

“Maar my persoonlike beste oorwinning as afrigter was om te sien hoe Leslie Snyders op Tweede Kersdag vir die eerste keer wen,” vertel Kulsen.

Kulsen is sedert 2006 ook die afrigter van die Suid-Afrikaanse handfietsrenjaer Ernst van Dyk en volgens Kulsen is hul verhouding gegrond op wedersydse respek.

Hy bewonder Van Dyk vir sy professionaliteit en die manier waarop hy die sport benader.

“Ernst gee ongekende aandag aan detail, veral as dit kom by die gebruik van toerusting en onderdele. Hierdie eienskappe van hom maak dit soveel makliker om hom af te rig.

“Ons eerste groot byeenkoms was die Paralimpiese Spele in Beijing in 2008. Tot op daardie stadium het hy nog nie ’n Paralimpiese goue medalje gewen nie.

“In die H5-padwedren was Ernst oor die laaste paar kilometer in ’n hewige stryd gewikkel met twee Ameri­kaners. Die roete was van so ’n aard dat die ryer wat die laaste draai binnekom, die beste kans het om te wen.

“Die opdrag was eenvoudig: Moenie wag tot net voor die draai om voor te kom nie, maar gaan vroeg vorentoe en dikteer die pas van voor af. Die naelrit vanuit die draai was seker die langste 200 meter van ons albei se lewe – dit het gelyk asof die wenstreep nie nader wou kom nie.

“Die Rio Paralimpiese Spele was omtrent soortgelyk. In dié wedren was dit ook duidelik dat die ryer wat eerste in die draai ingaan, sal wen. Ook in hierdie wedren het Ernst die laaste 800 meter dikteer en uiteindelik gewen. Dít nadat hy in 2012 in Londen tweede was.”

NAELBYTER: Kulsen klop Gerhard Genis in ’n baanwedren by die Faurestraat-sportterrein. Foto: Verskaf

As hy toegang tot ’n onbeperkte hoeveelheid geld gehad het, sê Kulsen, sou hy graag ’n sportskool en akademie wou oprig waar die jeug van die Paarl tot hul volle reg kan kom.

“Fietsry is, soos jy weet, ongelukkig ’n baie duur sport en geld is maar altyd ’n probleem,” sê Kulsen.

“Groot prysgeld en borge sal fietsry baie meer aantreklik maak. In die Paarl het ons begin om byeenkomste van ’n maksimum van twee ure aan te bied om fietsry aantrekliker te maak. Dié byeenkomste was tot dusver redelik suksesvol.

“Ons het ook oud-ryers genooi om meer betrokke te raak, maar die pandemie (Covid-19) het ons nou weer teruggesit.

“Ek voel ook die geriewe in die Paarl is bruikbaar, maar kan verbeter word, want die geskiedenis het bewys dat die Paarl die Mekka van veral baanfietsry is.”

Kulsen voeg by: “ ’n Fietsrybaan van internasionale gehalte sal wondere in die Paarl verrig. Dit sal ook die jeug aanmoedig om fiets te ry. Jy leer selfdissipline en toegewydheid en ook die vermoë om in ’n span te werk – alles aspekte van jou daaglikse lewe.

Kortpad

“My boodskap aan jong fietsryers is dus dat dit nie ’n maklike sport is nie. Toegewydheid, die wil om te leer en te luister en hope deursettingsvermoë is die eienskappe wat vir jou sukses sal bring.

“In fietsry is daar geen kortpad na sukses nie. Net harde werk bring sukses.”

Ten slotte sê Kulsen hy sal graag onthou wil word as iemand wat alles in sy vermoë gedoen het om die jeug die geleentheid te gee om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.

“Ek wil ook onthou word as die persoon wat nie sy kennis en ondervinding vir homself gehou het nie, maar bereid was om dit met enigeen te deel. Ek hoop dit is hoe mense my sal onthou.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters