4 maande gelede
Kayser nog vol vonk
STEEDS FIKS: Deon Kayser lyk nog goed, al relax hy deesdae meer.  ~ Werner Wippenaar

AS JONG seun van Rosedale in Uitenhage het hy nooit daaroor kon droom nie, maar die dag toe hy die Springbok-trui oor sy skouers trek en ’n driekuns aan drieë druk, is steeds sy beste herinnering.

Almal onthou die dag toe Deon Kayser die bal op die tryline uit Robbie Fleck se hande getackle het, maar die Oos-Kapenaar het ook die Sharks in ’n Superrugby-eindstryd en die Springbokke in 1999 se Wêreldbekertoernooi verteenwoordig.

Familie

Son het onlangs met Kayser gaan gesels – en vir ’n man wat onlangs sy 50ste verjaardag gevier het, lyk hy asof hy steeds ’n paar jonger manne ver agter kan los.

Kayser en sy familie is terug in die Baai nadat hy jare by die Sharks gespeel en ná sy uittrede ook daar afgerig het.

Die boorling van Uiten­hage is egter nou terug waar alles begin het en nou wil hy OP-rugby graag help waar hy kan.

Hy is reeds betrokke en is gekies as een van die OP-keurders.

Natuurlik het Covid-19 dinge die laaste paar maande tot ’n halt gebring.

Kayser vertel sport en die liefde daarvoor vir hom tuis begin het met sy pa, Dennis, en ’n paar van sy ooms.

“My pa het klubrugby vir Gardens en OP gespeel op sy dag en daarom was sport deel van my as jong seun.

“Ons het as familie altyd saam gaan kyk na hoe hy gespeel het en ek glo dís hoe alles vir my begin het,” sê Kayser.

Hoewel hy rugby op laerskool gespeel het, het dinge vir hom eers op hoërskool begin ernstig word.

“Ek was by John Walton Hoërskool in Rosedale en dit is waar ek die SA Skole- en OP-span gehaal het, nog in die ou bedeling onder die vaandel van Sacos in 1988 en ’89.”

Benewens sy belangstelling in rugby het Kayser ook die OP-atletiekspan gehaal en hy was ’n kranige vlugbalspeler.

Kayser sê as jong seun was die droom om Springbok te word nog nie iets wat die dryfkrag agter sy loopbaan kon wees nie.

“Vir ons daardie tyd was dit nie beskore om Springbok te speel nie. So, daardie inspirasie was ongelukkig nie daar nie. Maar ek het rugby regtig geniet en my dryfkrag was toe net om die beste te probeer word.”

Hy skryf ook sy sukses in sy jonger dae toe aan die gemeenskap waarin hy grootgeword het.

“Ek sal sê dat almal my aangedryf het, want rugby was ’n kultuur. My skool en die onderwysers het almal gehelp, sodat ek gegroei het in my loopbaan.”

Hy noem dat hy ná skool, in 1990 en ’91 vir sy plaaslike rugbyklub, Gardens, gespeel en hom toe in 1994 by Harlequins aangesluit het.

Net twee jaar later het hy die OP-span gehaal.

Toer

“My groot break, voel ek, het met Harlequins gekom omdat hulle so ’n goeie span was. Harlequins was een van die sterkste spanne, met spelers soos Bernard Petersen, Henry Pedro en Fred Tima. So, as gevolg van ons prestasies met Harlequins het ek in 1996 die SA A-span gehaal.”

Hy noem dit was sy eerste internasionale toer en dis steeds vir hom spesiaal.

“Vir my om die Springbok Sevens en Emerging Boks te verteenwoordig was spesiaal.

“Altyd as ek teruggekom het van ’n toer, het die gemeenskap my goed terugver­welkom­.”

Net voordat Kayser sy groot skuif na die Sharks gemaak het, het hy ook in 1997 vir die OP teen die Britse en Ierse Leeus gespeel. Dit was vir hom ’n baie spesiale dag. Hoewel OP met 11-36 vasgeval het, het Kayser geskitter en OP se enigste drie gedruk.

“Ek dink die wedstryd het ook gehelp dat ek raakgesien is en dis basies hoe ek verder geskuif het na die Sharks.”

Kayser noem ook sy debuut vir die Springbokke teen Italië in Durban in 1999 is iets wat hy nooit sal vergeet nie.

“Ek het net 20 minute kans gekry, maar ’n driekuns aan drieë aangeteken. Dit was vir my ’n baie groot oomblik.”

Verder sê Kayser hy geniet sy tyd terug in die Baai met sy familie baie.

Hy sê daar is ’n jong Ayron Kayser wat sy lyf tans skrumskakel hou vir wie ons moet uitkyk.

“Ek en my seun draf so bietjie en ek gee hom so hier en daar pointers, maar ek vat hom nog so bietjie aan as ons draf,” het hy laggend afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters