Verlede maand
Janice was SA se volmaakte ster
VLUGVOETIG: Josephs in aksie in die 100 m-hekkies tydens die Olimpiese Spele in Athene.  ~ Gallo Images

GEWOONLIK probeer ’n atleet om net in een item op die baan of veld te presteer.

Maar wanneer ’n mens na die loopbaan van Janice Josephs­ kyk, is dit duidelik dat daar niks is wat Josephs as atleet nie kon gedoen het nie.

Dit is dus geen verrassing nie dat baie kenners saamstem dat die 38-jarige boorling van Retreat in Kaapstad beskou word as een van die mees volmaakte vroueatlete wat Suid-Afrika tot nog toe opgelewer het.

Die voormalige sewekamp-atleet het die reënboognasie nie net op die Olimpiese Spele in sewe verskillende dissiplines verteenwoordig nie, sy het ná haar atletiekloopbaan as ’n rugbyspeler uitgeblink.

Sewekamp is ’n veeleisende item vir vroue waarin elke deelnemer aan dieselfde voorgeskrewe baan- en veldnommers deelneem.

Dit sluit in die 100 m-hekkies, hoogspring, gewigstoot, die 200 m, verspring, spiesgooi en die 800 m.

Josephs het as ’n 100 m- en 200 m-naelloper op die baan begin.

Later in haar loopbaan het sy ál haar aandag toegespits op verspring en toe ook groot sukses behaal.

Volgens Josephs is sy reeds sedert haar laerskooldae ’n atleet.

Sy vertel: “My pa, Micheal Josephs, is Tswana en my ma, Farieda, is ’n Moslem-vrou van die Kaapse Vlakte. Dit is waarskynlik ’n mengsel van hul gene wat my die natuurlike talent gegee het.

“Ek kompeteer al van die ouderdom van 14 jaar. Ek was sowat 19 jaar oud toe ’n Engelsman met die naam William ‘Pops’ Banks my in Parow op die atletiekbaan in aksie sien.

Hoofrede

“Pops het my genader om my af te rig.

“Hy het ’n groot rol in my loopbaan gespeel. Hy is die hoofrede dat ek ’n beroepsatleet geword het.

“Ek het destyds by Woolworths gewerk. Pops het my eerste kar gesponsor.

“Daarvandaan het ek die vinnigste in Suid-Afrika in die 100 m en 200 m geword.

“Ek was daarna die no. 1-atleet in verspring en hekkies.

“Pops het my aangemoedig om te probeer om die Suid-Afrikaanse Olimpiese span in sewekamp te haal.

“Ek het nommer 1 in die land in sewekamp geword. My Suid-Afrikaanse rekord staan tot vandag nog.

“In 2004 het ek vir die Spele daardie jaar in Athene gekwalifiseer. Dit was een van die hoogtepunte van my loopbaan.”

VLYMSKERP: Janice maak gereed om die spies deur die lug te laat seil.

Ná dit het Josephs in Europa gaan kompeteer. Mettertyd was sy twee tot drie jaar in die top-10 in die wêreld in sewekamp.

Haar laaste byeenkoms in die buiteland was die World Champs in Berlyn in 2009.

“Ek het dit geweldig baie geniet om my skool, my provinsie en my land te verteenwoordig.

“Ek het baie gereis, vriende gemaak en atlete ontmoet.”

Josephs het in 2014 op die ouderdom van 32 haar laaste medalje gewen – op die Afrika-byeenkoms.

Daarna het sy weens ’n besering besluit om haar spykerskoene weg te pak.

“Almal het my geken as ’n sprinter, maar om hekkies, hoogspring, verspring, spiesgooi en gewigstoot ook te doen, was beslis nie maklik nie. My liggaam het deur baie gegaan.

“As ’n atleet wat aan verskillende events deelgeneem het, het dit sy tol op my liggaam geëis en ek het rugprobleme opgetel.”

Spansport

Ná ’n paar maande verlof het Josephs besluit om haar spykerskoene vir rugby­stewels te verruil.

Sy’t haar by die rugbyklub Pniël Villagers aangesluit.

“Ek het die grootste deel van my lewe aan individuele sportsoorte deelgeneem, maar ek wou nog altyd ’n spansport beleef.

“Toe ek rugby begin speel, het ek gelukkig die niggles afgeskud.

“Ek het baie drieë begin druk. Al wat ek moes doen, is om die bal in my hande te kry en te move.”

GEFOKUS: Janice Josephs vat ’n blaaskans tydens kompetisie by Spele.

Dit het nie lank gevat voordat haar talent raakgesien is nie. Die voormalige Blitsbok Renfred Dazel, coach­ van die Suid-Afrikaanse vrouesewesspan, het Josephs uitgenooi om saam met die span te oefen.

“Ek is uitgenooi om saam met die nasionale span te oefen en het die WP-sewesspan gehaal.

“Ek het aangehou speel en verteenwoordig al twee jaar die Boland se 15’s-span as vleuel.

Opknap

“Twee jaar gelede is ek as die mees toegewyde speler aangewys en ek was die voorste driedrukker.

“My sterk punte is dat ek spoed het en kan step. My coach sê ek moet nog my verdediging ’n bietjie opknap. Ek beoog om op die ouderdom van 40 te retire.”

Josephs werk deesdae by die Yes We Can Sport & Jazz-stigting. Sy is ook ’n CoolPlay Champion, wat lid is van die Laureus Sport for Good-organisasie.

Sy werk tans by die Laerskool Sarepta in Kuilsrivier, waar sy youngsters afrig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters