5 maande gelede
In gesprek met veelsydige Faiek
COACH: Faiek Davids is deesdae die Cobras en die Cape Town Blitz se hulpafrigter.  ~ Gallo Images

FAIEK Davids was een van die beste veelsydige sportmanne uit die Sacos-era.

Hy het in atletiek uitgeblink en nasionale kleure in rugby en krieket verdien.

Son het vroeër vandeesweek telefonies met die nou 55-jarige hulpafrigter van die Cape Cobras gesels oor sy legendariese loopbaan.

“Ek was van kleins af versot op sport. My ouer broer Faizel was instrumenteel in my belangstelling in sport.

“Ek het by Primrose begin in die o. 35 kg-span as ’n skrumskakel, losskakel en vleuel. So, ek was maar van daai tyd af veelsydig. As dit nie vir Faizel was nie, kon ek dalk in ander goed belanggestel het of van die reguit paadjie afgedwaal het,” sê hy.

Faizel was ook die een wat hom aan krieket bekendgestel het.

“Ons het in Lansdowne gewoon en het Vrydae afgegaan na die Primrose Krieketklub se nette om aan ons kolf- en boulwerk te werk.

“Die nette was maar saamgeflans met draad, maar dit het ons nie verhinder om aan ons vaardighede te slyp nie. Ek het daar ontwikkel in ’n veelsydige speler – ’n snelbouler en ’n middelorde-kolwer.

“Saterdae was daar gereelde krieketwedstryde en ek was op my allergelukkigste.”

Hy is ná skool na die Hewat Onderwyskollege waar hy 12 maande van die jaar aan sport deelgeneem en gou uitgestyg het.

In 1984 het hy die WP-krieketspan gehaal en saam manne soos Saait Majiet, Vincent Barnes, Fagmie Solomons en Armien Jabaar gespeel. Van 1987 het hy egter wasdom bereik en die lopies het van sy kolf gevloei. Hy het ook met die bal uitgeblink.

Davids het ook in dié tydperk op die rugbyveld vir Cities en later WP uitgeblink en die Saru-span in 1988 as vleuel gehaal. Die voormalige Springbok-afrigter Allister Coetzee en Francois Davids, huidige Saru-vise-president, was van sy spanmaats.

Sleutelbeen

“Op daai stadium het ek nie besef watse hoogtes ek bereik het nie. As ek nou terugkyk na foto’s en koerantuitknipsels, besef ek eers hoe great dit was, maar ek was totaal en al onbewus van die magdom van my prestasies,” sê Davids trots.

Hy het sy toks in 1990 opgehang nadat hy eers sy gewrig en toe sy sleutelbeen gebreek het. Nelson Mandela is in Februarie 1990 vrygelaat en Davids is toe gekies om saam die “verenigde” nasionale span na Indië te toer.

“Ek het nie eens ’n paspoort gehad nie, maar Ali Bacher het gesê hulle sal my help om een te bekom.

“Ek is saam Hussein Manack, Derek Crookes en wyle Hansie Cronjé gekies om as ontwikkelingspeler saam die span te toer. As ek terugkyk, moes ons administrateurs dalk voet neergesit en aangedring het dat ons speel.

“Die administrateurs het almal in die jare daarna posisies in die Verenigde Krieketraad van SA gekry en wou dit seker beskerm, want skaars twee jaar later is ek weer vir die Wêreld­beker ‘gekies’ as ontwikkelingspeler.”

Meeding

Cronjé was in die SA span vir die World Cup en Crookes­ het voortgegaan om van 1994 tot 2000 vir die Proteas te speel. Davids sou nooit die kans kry om sy land te verteenwoordig nie.

Die volgende paar seisoene het hy hoofsaaklik vir WP se B-span gespeel en nooit gereeld kanse in die Castle Cup of Benson & Hedges-dag/aandreeks gekry nie.

“Ek was met die rug teen die muur,” vertel Davids.

“Ek het uitgeblink in die B-span, maar moes meeding met manne soos Adrian Kuiper, Brian McMillan en Eric Simons vir ’n plek in die WP-span.”

KARTETS: Davids stuur een van sy kartetse af.

Davids het wel vroeg in 1996 ’n kans vir die WP gekry in ’n eendagwedstryd teen Engeland op Nuweland.

Sy span was in die knyp toe hy op nommer 7 ingestap en die skip na veiligheid geseil het. Hy het ’n onoorwonne 55 aangeteken teen ’n Engelse boulaanval wat Darren Gough en Phil DeFreitas ingesluit het.

“Ek onthou ons was met die rug teen die muur voordat ek en Paul Kirsten ’n goeie vennootskap gevorm het. Ek het daai dag net besluit om met die vryheid te speel waaraan ek gewoond was. Dit was altyd die soort spel wat ek wou lewer.

“Dit was egter eers daarna dat daar effe anders na bruin en swart spelers gekyk is. Paul Adams, Herschelle Gibbs en Makhaya (Ntini) het almal daai tyd deurgebreek en Proteas geword.”

Apartheid

Davids se beste jare was egter in daai stadium reeds verby en sy beste vertonings was waarskynlik vir die WP in die laat 1980’s en vir die WP B ná eenwording.

Nóg ’n legende wat die wêreld weens apartheid nie kon sien nie ...

DIE MANNE: Davids (agter derde van regs) met die Saru-rugbyspan van 1989.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters