13 dae gelede
Hy’s per ongeluk die beste
BLITS: Kramer, op sy dag een van die vinnigste vleuels, met foto’s uit daai tyd.  ~ Charles Pullen

DIT was nou dalk ’n fout weens verwarring oor name, maar dan het iemand ’n baie goeie fout gemaak, want dit het die deur oopgemaak vir een van die Oos-Kaap se beste Saru Sacos-vleuels.

Gedurende ’n lieflike en gesellige besoek aan Desmond Kramer het dié blitsige oud-vleuel van die Oostelike Provinsie vertel hoe hy per toeval as een van die beste buiteagterspelers in nierassige rugby naam gemaak het.

Onttrek

“Ek is nou nog seker daarvan dat dit ’n fout was dat ek op vleuel gekies is. Jy sien, ek was eintlik al die jare voor dit ’n senter.

“Desmond Barnes het om die een of ander rede onttrek aan ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan in 1975.

“Ek dink Desmond Booysen is die persoon wat gekies moes word, want ek het in daardie stadium nog nooit vleuel gespeel nie, maar ek is toe gekies as vleuel.

“En dit was dit,” vertel Kramer laggend.

Kramer vertel sy liefde vir sport (atletiek en rugby) het jare gelede in Gelvandale begin toe hy maar nog ’n laerskoollaitie by Alpha Primêr was.

“Een van die onderwysers het besluit ek moet 100 m hardloop. Ek was toe vyf of ses en het nog nooit regtig enige sport beoefen nie.

“Snaaks genoeg het ek daardie dag eerste gekom.”

Hy sê dit was ook die laaste van sprinting op laerskool; hy het toe begin hoogspring.

“Ek’t geen idee hoekom ek toe nie daai tyd verder gegaan het met die sprinting nie, maar in st. 5 (gr. 7) het ek vir die eerste keer begin rugby speel.

“Ons onderwyser, AB Bruiners, het my as voorryman laat sak. Om eerlik te wees, Bruiners was meer ’n sokkerman, so hy het nie vir ons gewys hoe werk die skrum en dies meer nie.

“Ek dag toe my kop moet in die skrum teen die ander ou se kop stamp. Daarna het ek besluit ek speel nie weer rugby as ek nie op ’n ander posisie kan speel nie.”

Gekies

Kramer se spoed het hom later na senter toe laat skuif, maar op hoërskool, sê hy, het hy nie baie geworry met rugby nie. Hy het in atletiek uitgeblink.

“In 1970 was ek die enigste atleet van Gelvandale High wat gekies is vir die OP-span wat aan die SA Skole-kampioenskapstoernooi in Johannesburg gaan deelneem het. Daarna het ek vir Wallabies se juniors begin speel. Die o. 85 pond-span, dink ek.”

By die Wallabies het Kramer se rugbyloopbaan stoom opgetel.

In 1972 het hy die OP-skolespan gehaal – saam met spelers soos Booysen, Stag Mitchell en Ismael Sallie.

“ ’n Mens kan sê 1975 was my breakthrough year.

“Daai jare toe speel Uitenhage en PE nog proewe teen mekaar om die OP-span te kies. Ek druk toe as buitesenter twee drieë en word daarna – verkeerdelik, dink ek – as vleuel gekies.”

In die uitnodigingswedstryd teen Kwaru, vertel hy, het hy twee drieë gedruk en daar het toe ’n kenmerk van sy rugby begin.

“Ek was op pad doellyn toe, maar sien toe die Kwaru-manne se cover defence gaan my kry. Toe dink ek: Wat moet ek nou doen? En besluit toe om bo-oor die manne te duik.”

DUIKER: Kramer druk een van sy kenmerkende drieë deur sommer bo-oor sy teenstanders te duik. Foto: Verskaf

Kramer sê die Maandag ná die wedstryd moes hy vir sy werk na Ford se Cortina-fabriek gaan.

“Almal daar is toe Kwaru-ondersteuners en die manne los hul werk net so toe hulle my sien en kom groet my en vat aan my Afro,” lag hy.

Nog een van die stories wat vir hom uitstaan, is toe hy in 1976 teen John Cupido (Boland) moes uitdraf.

“Die joernalis Peter Clarke skryf toe in een van sy berigte ons gaan dié naweek uitvind of Kramer regtig so talentvol is.”

Kramer sê hy was opgewerk vir die game en kry toe ’n gulde geleentheid.

Spog

“Ons het ’n goeie beweging uitgevoer. Ek het die doellyn voor my gesien en toe is dit einste Cupido wat my probeer keer.

“Ek weet nie hoe ek dit gedoen het nie, maar op die een of ander manier duik ek toe bo-oor hom.”

Kramer spog met drie SA Cup-titels. Hy het ook in vyf van Saru se Top 8-eindstryde gespeel, waarvan vier gewen is.

Hoewel Kramer binnekort 66 word en in 2015 kanker beveg het, is hy nog fiks en oefen elke dag. “Ek draf amper elke tweede dag en doen verskillende oefeninge by die huis en in die gym.”

Selfs toe hy chemoterapie gekry het, het hy geoefen.

“Die dokters was kwaad. Hoewel ek baie swak was as gevolg van die behandeling, glo ek die oefening het my eintlik daardeur gehelp.”

Kramer draf steeds so baie, hy het ’n spesiale rak vir al sy drafskoene.

STEEDS PADLANGS: Kramer oefen elke dag en moet gereeld drafskoene koop. Foto: Charles Pullen

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters