2 maande gelede
Hawston se royalty
Nathaniel “Tappy” Gillion  ~ Verskaf

AS JY met inwoners van Haw­s­ton oor rugby gesels, moet jy nie verbaas wees as die name van die Gil­lion- broers Nathaniel (“Tappy”) en Eddie, in een asem genoem word nie.

Soos die mense sê, hulle het Hawston-rugby op die map geplaas en word as dié vissersdorp se rugby-adellikes beskou.

Hulle is ook die neefs van Frank en Sam Benjamin.

Eddie (66) het as 15-jarige vir die Hawston Anglikaanse Kerkskool op heelagter begin rugby speel.

Hy het egter later as vleuel sy merk gemaak. Volgens hom was heelagter te ver van die aksie.

PUNTE: Nathaniel “Tappy” Gillion skop pale toe in die Silwerbekerwedstryd teen Blue Birds van Elsiesrivier.

Hy het besluit om klubrugby in Hawston (waar hy heelagter was) te verruil en op Stanford sy vaardighede as vleuel ten toon te stel.

Só kon hy meer as die helfte van die wedstryd deurentyd betrokke wees.

Baklei

Eddie verduidelik: “Ek is jonger as Tappy en hy en Sam het my baie by Hawston afgeknou – of ek moes namens hulle op die veld baklei. Nou nie letterlik nie...

“Veral Sam het die manne saggemaak voor en dan het ek en Tappy die drieë gaan druk.

"Tappy was die losskakel en hy het elke bal getap en geskop en dan moes ek my bene wikkel oor die veld. Dis waar sy bynaam vandaan kom.”

Voordat die klub Haw­ston geword het, was dit eers bekend as Perseverance.

Dit het Hawston geword nadat klubs in dorpe ná eenwording versoek is om saam te smelt en een dorpspan te vorm.

Destyds het die SA Rugbyfederasie se streekspanne om die Silwerbeker meegeding.

Hawston, Caledon en omgewing het onder die vaandel van Suidelikes deelgeneem.

Staatmakers: Nathaniel (“Tappy”) en Eddie Gillion vandag.

Eddie en Sam het ook in die 1980’s uitgedraf vir die Groenland-rugbyunie, wat klubs van Grabouw en verder ingesluit het.

Hulle is in 1984 gekies vir Randy Marinus se Boland-span wat in die SA Bekerkompetisie van die destydse SA Rugbyunie (Saru) meegeding het.

Benewens Marinus was Peter de Villiers, Anthony Francis (Burton se pa) en Pieter Lourens ook in die Boland-span wat deur Clyde Thomas afgerig was.

Die hoogtepunt in sy loopbaan was beslis toe hy en Tappy saam in 1976 vir die Federasie, of Proteas, teen die All Blacks uitgedraf het.

Tappy het van die bank gespeel en Charles Williams en Hennie Shields was die senters. John Stubbs was op losskakel.

“Errol (Tobias) bly mos net ’n hanetreetjie van ons in Caledon en hy het vir Suidelikes senter gespeel, maar losskakel vir Caledon, want Tappy was Hawston en Suidelikes se losskakel.

“Ander spanne in die Overberg en die res van die uniespanne van die Federasie was bang om teen Haw­s­ton en Suidelikes te speel, want ons het pak uitgedeel en ook pak gevat.

BLOM, PROTEAS: Spanfoto van die Proteas teen die All Blacks in 1976 op die Goodwood-skouterrein. Die twee broers is in die middelste ry. Tweede van links is Nathaniel Gillion en langs hom is Eddie.

“Vir my was dit baie lekker om die spanne van die Kaap ore aan te sit en vir ons plaasjapies was die sege oor Blue Birds om die Silwer­beker op Florida Park ’n baie soete herinnering.

“Blue Birds was gelaai met spelers soos Ralph Mawson en Tommy Petersen, maar hul stertvere is daai dag geknip. Strand het hulle ook drie keer agtereenvolgens geklop, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Tente

“Destyds was Dougie (Dyers) ook die afrigter en keurder van die Proteas teen die Luiperds en ander oorsese toerspanne. Om vir die Proteas te speel, is proewe by SAKK in Faure gehou.

"Ons het ’n week of twee in tente daar gebly. En moes jy nou speel vir ’n plek in die Proteas!

“Wanneer ons plaasjapies nou bymekaar kom en daar is van die ander unies ook in die geselskap, dan word daar op ’n baie ernstige noot gesê: ‘Dié en dáái speler het in die Proteas beland omdat hulle hare op die veld gewip het.’ Waar het jy nou gehoor en gesien plaasjapies en vissermanne het hare wat wip? Dis seker hoekom hulle nie eintlik die Proteas gehaal het nie,” lag hy.

Eddie was een van die bruin en swart spelers wat in 1977 aan die eerste gemengde proewe op Loftus Versfeld, die heiligdom van die Blou Bulle, deelgeneem het vir ’n plek in die Springbokspan teen die Wêreld XV-tal.

WEDERHALF: Eddie en sy vrou, Sandra, in gesellige luim.

Die ander was Keith Lentoor, Yusuf Louw, Matthew Napoleon, Ronnie Louw, Piet Boonzaaier, Errol Tobias, Randy Marinus, Hennie Shields, Charles Williams, Hannes Meyers, Tommy Petersen, Jack Juries, Louis Paulse, Timothy Nkonki, Bridgeman Sonto, Selby Meleni, Mkhosana Yengeni, Zolile Matomela, Norman Mbiko, Edward Mokhele, Bitele Stemele, William Diba, Thompson Magxala, Welcome Speelman en Mbebe Ngontsi.

“Kyk, dít was nou vir jou ’n storie, want ons moes vir daai proewe-week (Woensdag tot Vrydag) 16:00 aandete geniet.

"Hier teen 19:00 was ek weer honger, want dis mos wanneer ek my voete onder my tafel vir aandete ingeskuif het.

“Ek moes toe ’n plan maak en het tjommies gemaak met een van die kokke in die hostel. Hy het gesorg dat daar saans voor hy nou huis toe gaan, ’n verrassinkie in my kamer afgelewer word.

“Die ander ouens het eers baie laat uitgevind van die midnight snack in my kamer­, want ek kon nie op daai 16:00-ete oorleef tot ontbyt die volgende dag nie.

“Ongelukkig het ek nie die Bokspan gehaal nie. Aggie Koch is gekies,” sê hy.

Tappy (75) beaam wat Eddie gesê het oor hul eerste wedstryd as broers teen die All Blacks in 1976 op die Goodwood-sportterrein toe hy van die bank gespeel het.

Nathaniel “Tappy” Gillion

Tappy verduidelik: “Ek het nou nie so ’n lang storie oor my rugbyloopbaan soos Eddie nie, want op 30-jarige ouderdom het ek my togs opgehang nadat ek my sleutelbeen gebreek het.

“Ek het toe meestal klubrugby gespeel. Ek sê vandag nog dat ek agterna uit al die Protea-spanne gelaat is omdat Attie Lategan, my skrumskakel, swak balle gepass het sodat John Stubbs kon begin teen die All Blacks en ek van die bank moes speel,” skater hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters