2 maande gelede
Generaal Isaacs ‘beter as Naas’
TROTS: Silvin Isaacs is al as ’n steunpilaar beskryf.  ~ Shafiek Mouton

MENIGE rugbyspeler en ondersteuner uit die era voor eenwording in 1992 sal jou vertel Silvin Isaacs was in rugby­terme ’n gerekende generaal.

Hoewel die nou 58-jarige voormalige Boland- en Saru-losskakel nooit sy hoërskool se eerste span kon haal nie, het hy ontluik as een van die beste losskakels wat Boland en selfs Saru opgelewer het. Soveel so dat een van sy afrigters meen hy was “net so goed of selfs beter as Naas Botha”.

Gebore

Son het gister in Wellington met Ballie, soos hy in die Boland bekendstaan, oor sy rugbyreis gesels.

“Ons het maar altyd in die pad en op die landjie rugby gespeel, toe ons kinders was,” vertel Isaacs.

“Ek vermoed ek is met ’n bal in die hand gebore, want ek wou van kleins af al net sport speel.

“Op voorbereidingskool het ek eers haker gespeel, maar ek moet bieg, dinge daar voor was vir my te rof. Ek het losskakel toe geskuif en nooit teruggekyk nie.”

Hy onthou: “Ek het vir Pirates se juniors gespeel voordat ek Hoërskool Bergrivier toe is.

“Daar kon ek nooit first team haal nie. Mnr. Thys Adams, my klasonnie in my st. 9-jaar, het my gevra om vir Roslins te kom speel. Dit was nie lank nie, toe dra ek Roslins se eerstespan-nr. 10-trui.

“Ek het my debuut teen Newclare op Pelikaan Park se B-veld gemaak en gedrop, geplace en gescore. Mnr. Gert Mett­ler het ná die wedstryd na my gekom en gesê: ‘Boeta, jy gaan nog ver kom. Pas jouself op.’ ”

OP DIE AANVAL: Isaacs skop ’n grubber teen Cities. Foto: Verskaf

Daai wedstryd het Ballie die nodige selfvertroue gegee. Hy vertel: “Dit was nie lank nie, toe haal ek die Wellington Unie-span en daarna, in 1983, vir die eerste keer Boland.

“Die briljante Dawn Arendse was vir een wedstryd my skakelmaat.

“Randy Marinus was in daai stadium Boland-kaptein. Ons groot hoogtepunt as Boland-span het egter eers in 1988 gekom, toe ons in Athlone die SA Cup teen WP gewen het.”

Isaacs staar die verte in voordat hy verder vertel.

“Almal weet nou al dat die span se bus op die N1 buite Kraaifontein gaan staan het.

“Robbie Hendricks, destyds die eienaar van die Club Neavou-nagklub in Wellington, het tot ons redding gekom. Hy was op pad na die wedstryd en het ons langs die pad gewaar.

“Hy het toe sy kombi vol mense by ons bus afgelaai en ons ingelaai. Ons kon toe net betyds by die veld kom.”

Isaacs sê: “Dit was ’n tight game. Ek onthou hoe ons pak aan die einde verbete moes walgooi om die ster­belaaide WP van ons doellyn af te hou.

“Die deurslaggewende oomblik was laat in daai final toe ek met ’n lang torpedo-lynskop vir my span verligting kon bring en spel tot in hul gebied verplaas het.

“Ons voorspelers – soos ons kaptein, Kaballie Davids, Noel Claassen, Kalla Josephs en Tamatie April – het soos tiere verdedig.”

Amptelike

Isaacs sê hy het in dieselfde jaar Saru se junior- en SA Platteland-span gehaal voordat hy in 1989 die hoogste vlak bestyg het.

“Ek onthou oom Jackie Abrahams het my telefonies meegedeel, maar ek wou hom aanvanklik nie glo nie.

“ ’n Amptelike brief het dit egter bevestig. Dit was ’n groot oomblik in my lewe toe ek die Saru-span haal,” vertel Isaacs trots.

Hy beskou Davids, vandag adjunkpresident van SA Rugby, as sy groot mentor.

“Kabee het my gedruk om hard te werk en fiks te wees en my van dissipline geleer. Hy was destyds my vriend en mentor en ek sien hom vandag nog so.”

GROEN-EN-GOUD: Isaacs, tweede van regs in die middelry, was in 1990 lid van die Saru-span. Foto: Verskaf

Isaacs is spyt daar is nie amptelike rekords oor destyds se rugby nie. “Ek het baie meer as 100 wedstryde vir Boland gespeel, maar kan dit nie bewys nie. Ek weet ook nie hoeveel punte ek aangeteken het nie. Manne soos Kabee en Arendse het ook meer as 100 wedstryde vir Boland gespeel.”

Cupido Cupido, die legendariese Boland- en Saru-afrigter, het in ’n vorige onderhoud gesê: “Na my mening was Silvin net so goed of selfs beter as Naas Botha.”

Isaacs, wat ook provinsiale krieketkleure verwerf het, wil nie vergelyk word nie.

“Kyk, ek het op TV gesien wat hy doen. Ek wil nie grootkop klink nie, maar dit wat hy kon doen, kon ek ook doen.

“Ek kon goed skop – kantlyn toe, pale toe en hoeke toe. Ek kon links en regs skepskop en hy ook.

“Ons het nie dieselfde geleenthede gekry nie. My senters en vleuels het egter meer bol gekry as syne,” sê Isaacs ondeund.

GOEIE OOMBLIK: Isaacs beskou dié foto saam met Jeff Runelli as sy gunsteling. Foto: Verskaf

SILVIN ISAACS SE BESTE 15-TAL:

Spokie September, Fred Amsterdam, Ivan Jacobs, Joslin Ontong, Jeff Runelli, Fagmie Solomons, Allister Coetzee, Kalla Joseph, Nadir Isaacs, Francois Davids, John April, Richard Britton, Thurston Joseph, Denzil Domoney en John Triskey.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters