2 maande gelede
Gee Wilfie ’n goue medalje
Wilfred “Wilfie” Daniels  ~ Gallo Images

WILFRED Daniels het langer as drie dekades ’n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse atletiek.

Wilfie, soos hy in atletiekkringe geken word, het in die ou én nuwe bedeling ’n reuse-bydrae gemaak tot die vordering van SA atletiek.

En dit was as atleet sowel as administrateur dat dié Stellenbosser sy merk gemaak het.

Deesdae vat die 70-jarige Wilfie dinge veel rustiger en hy kan meermale gesien word waar hy op die balkon van sy woning in Cloetesville sit en chill. Dit is ook hier waar hy gereeld die atletiekstaaltjies met sy kleinkinders deel.

Daniels het atletiek vir 31 jaar – van 1983 tot 2014 – as afrigter en administrateur gedien.

Hy was tussen 2000 en 2008 op drie Olimpiese Spele die afrigter van die Suid-Afrikaanse nasionale atletiekspan.

Hy voel egter sterk dat sy dae as voorstander van “athletic excellence” onder die vaandel van die South African Council On Sport (Sacos) sy beste jare was.

Daniels was toe een van die steunpilare van die South African Amateur Athletics Board (SAAAB) gedurende die baie stormagtige 1970’s, 1980’s en vroeë 1990’s.

Dit is veral atlete van die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK), asook dié van die Westelike Provinsie-Unie en SAAAB wat kan getuig oor sy passie, geesdrif en kundigheid oor atletiek gedurende die apartheids­jare.

Hy was jare lank hoof van atletiek by UWK en het in die vroeë 1980’s nou saam met wyle prof. Jakes Gerwel, visekanselier, gewerk aan die oprigting van die UWK-stadion. Dit is daar waar die eerste aand-studenteliga in 1985 gehou is.

Verenig

Wilfie was instrumenteel in die aanbieding van dié studenteliga-byeenkomste, waar atlete soos die legendariese Jantjie Marthinus die 800 m in ’n ongelooflike 1:48.60 afgelê het.

Wilfie het in 1992 ’n leidende rol gespeel toe die land se verskillende atletiek­liggame verenig is. Hy was weer ’n sleutelfiguur in die afrigtingstrukture.

“Ek móét dit benadruk. Die wit unie was verstom met die tegniese bekwaamheid en vaardighede van die Sacos-amptenare,” het hy met trots gesê.

In 1993 is Wilfie as die nuwe verenigde liggaam, Atletiek Suid-Afrika, se nasionale afrigter aangestel. Hy was aan die stuur van sake toe Suid-Afrika op die Spele in Sydney (2000), Athene (2004) en Beijing (2008) deelgeneem het. Hy was ook aan die roer van sake met die SA span se deelname aan verskeie wêreldbyeenkomste.

Terwyl Team SA tans in Tokio aan die Spele deelneem, flits Wilfie deur sy herinneringe van Sydney, Athene en Beijing.

“Ek dink aan die dag by die Sydney Spele in 2000 toe ek by die eetsaal instap en daar sit Muhammad Ali ook. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie.

“En al die verskillende tale wat daar in die eetsaal gepraat word. Dit was nou regtig ’n Babelse verwarring, maar op ’n vrolike en onbeskryflike wyse.

“Dan was daar die Spele in Beijing, waar ons gees baie laag was. Toe kom Khotso Mokoena en wen die silwermedalje in die verspring vir mans. Skielik het almal toe weer lewe gekry.”

Hy het gedurende die land se isolasiejare, toe Suid-Afrika uit internasionale sport geskors was, talle internasionale kwalifikasies van die International Amateur Athletics Federation (IAAF verwerf.

“Ek het in 1981, met die hulp van Sacos, die kans gekry om by Loughborough University in Engeland, my kwalifikasies as afrigter te verwerf.

“Dit is dieselfde universiteit waar die huidige president van Wêreldatletiek, lord Sebastian Coe, studeer het. Dit is waar ek met hom kennis gemaak het.”

Maar dit was in die geledere van SAAAB en die WPAAU waar hy sy vaardighede verder geslyp het.

Kursusse

“Ten spyte van ons min resources was die wit unie baie skrikkerig vir ons. Hulle het geweet ons atlete het baie goeie afrigting gekry. Ons was ook goed toegerus met talle vaardige en toegewyde amptenare. Ons was goed opgelei en het die IAAF se kursusse gevolg.

“Benewens dit het ons ook toegewyde manne en vroue gehad wat gesorg het dat ons uitslae in koerante verskyn. Ons kon dus op Maandae ons uitslae met dié van die wit kant vergelyk,” sê hy met ’n breë glimlag.

Wilfie het in talle administratiewe poste by SAAAB gedien. Hy was sportsekretaris, sameroeper van afrigters, sameroeper van die afrigterskomitee vir atletiek en sommer nog baie meer.

Hy het in 1976 gehelp om die Stellenbosch-atletiekklub op die been te bring.

Hy was ook ’n kampioen-atleet in sy dae en het geskitter in die 400 m, 800 m en 1 500 m.

Maar vir Wilfie is die groot hoogtepunte in sy loopbaan sy uitstekende werk met die Studenteliga, asook die SAAAB Prestige-byeenkomste en die talle atlete wat hy in sy Sacos-dae afgerig het.

Hy noem veral die naam van wyle Abdullah Gangraker, die eienaar van die Wembley Group of Companies in Belgravia, Athlone, as ’n besonderse individual wat gehelp het om atletiek en ander sportsoorte gedurende die strugglejare aan die lewe te hou.

“Hy het nie gehuiwer om ons finansieel by te staan toe ons hom genader het om die Wembley-padwedloop aan te bied nie. Dit was ’n reuse-sukses.

“Atletiek was in die strugglejare aan die voorpunt van ons stryd teen apartheid,” vertel hy.

Gelewer

Daniels sê sy grootste teleurstelling is die aantal atlete wat tans uit die system verdwyn. Dan is daar ook diegene wat nie hul kanse aangryp nie.”

So, wat doen Mnr. Atletiek deesdae? “Ek het in 2014 ’n besluit geneem om alle bande met atletiek te verbreek. Ek het my bydrae gelewer en dit is nou ander se kans om hierop voort te bou. So, ek geniet my aftrede en ek geniet my dorp.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters