3 maande gelede
Flik-flak na roem in Bok-trui
TÓÉ: ’n Jong Paulse in sy Stormers-gewaad in 1998.  ~ Gallo Images

BREYTON Paulse was in die jare ná eenwording in die vroeë negentigs een van die eerste spelers uit die bruin gemeenskap wat ’n permanente plek in die Springbokspan verdien het.

Die plaasseun van die Koue Bokkeveld het eindelik in sy 64 toetse 26 drieë as vleuel vir die Bokke gedruk.

Hy moes egter die stigma rondom sy grootte, of gebrek daaraan, deurlopend beveg en het die weg gebaan vir soortgelyke kleiner spelers soos Gio Aplon, Brent Russell en Cheslin Kolbe.

Paulse is nou al ’n instelling by die betaalkanaal SuperSport, waar hy as ontleder en kommentator werk.

Hy is ook mede-aanbieder van die joernaalprogram Toks & Tjops en is gereeld te sien op Super Rugby.

Son bring vandag hulde aan Paulse, die WP-, Stormers- en Springbok-held wat die skares op Nuweland en regoor die wêreld vermaak het.

Moeilik

“Almal weet ek is ’n trotse plaasklong van die Koue Bokkeveld,” skop hy ons gesprek af.

“Ek het grootgeword op ’n plaas genaamd De Keur. My ma, Setta, was ’n enkelouer en ek was maar ’n moeilike kalant, stil maar tog moeilik. Jy sien, ek was altyd besig om te speel, besig om balle te skop en tekere te gaan.

“Rugby was seker maar in my bloed aangesien my pa ’n goeie rugbyspeler was.

“Die plaaslewe het my baie geleer as kind en die lewe was lekker. Jy was as kind vry.

“Ons maatjies op die plaas het veral op Sondae in die berge gaan speel, in die wingerde, damme en boorde. Vakansietye het ons op die plaas gewerk om ’n sakgeldjie te verdien.

“As jy uit die lyn getrap het, is jy gedissiplineer, maar dit het tog jou waardesisteem opgebou.

“Ons het wel by tye nie kos gehad nie en moes soms sonder skoene in die sneeu loop, maar ’n ou wil nie daarin delf nie.

“Ons het min gehad, maar ons het oor die weg gekom. Dit was lekker tye,” onthou hy met heimwee.

RESPEK: Breyton en Jonah Lomu deel ’n oomblik ná ’n toets in 2001. Foto: Gallo Images

Die jong Breyton was op skool al talentvol, vinnig en rats. Die plaasbestuurder, Charl du Toit, het sy potensiaal raakgesien.

“Hy het my eendag in my matriekjaar na sy kantoor geroep. Ek het gedink: O, jitte, hier kom nou groot moeilikheid.

“Die norm in daai sta­dium was dat wanneer jy in matriek kom, moet jy solank met die plaasbestuurder begin praat oor ’n moontlike joppie op die plaas ná matriek. Daar was g’n manier hoe een van ons verder kon gaan studeer nie.

“Wel, Charl sê toe ek moet my skoolwerk opskerp, want hy wil my na Stellenbosch-Universiteit stuur. Die een voorwaarde was dat ek my eerste jaar moes slaag, anders moes ek terugkom plaas toe om daar te kom werk,” vertel Paulse laggend.

Hy beskou daai dag as ’n keerpunt is sy lewe. “Hier was iemand wat vir my iets gedoen het wat ek nie verwag het nie, en hy hoef dit nie te gedoen het nie.

“Ek was maar ’n plaasseun en my ma het vir hom gewerk, maar hy’t potensiaal in my gesien wat my die nodige selfvertroue gegee het.”

In die Eikestad het jong Breyton aanvanklik in die Vierde Liga vir die Goldfields-koshuis gespeel voordat die legendariese oom Chummy Jankielsohn hom raakgesien het.

Paulse het hom vinnig opgewerk na die Maties se eerste span voordat hy in 1996 genooi is om vir Nick Mallett se Boland teen die All Blacks in Worcester te speel.

“Daar was ’n reuseskare daai dag en my ma was ook daar langs die veld – wat spesiaal was vir my.

“Gelukkig kon ek ’n drie druk wat ook ’n kritieke oomblik in my loopbaan was, aangesien ek toe al begin het om aan die WP-deur te klop. Hulle het my toe nie gekies nie,” onthou hy.

Pret

“Ek onthou dat die media nie net oor my size ’n ophef gemaak het nie, maar ook oor die kwotastelsel.

“Ek het gekompeteer teen manne soos Chester Wil­liams, Slaptjips Rossouw, Justin Swart en Simon Berridge, maar het ook daai ekstra las gehad, want mense het in my vermoëns getwyfel. Dit, ten spyte van die feit dat ek drieë vir die pret gedruk het,” onthou hy.

“Toe ek later deurbreek, was die weg alreeds vir my gebaan deur manne soos Chessie en Tinus Linee.

“Ek is daai legendes ook ewig dankbaar, want dit was toe makliker vir my om in te kom en goed te vertoon.”

Hy het toe sodanig vertoon dat die einste Mallett hom in 1999 vir die eerste keer vir die Bokke gekies het.

Hy het in sy debuut sommer ’n driekuns aan drieë behaal en dit gevier met sy kenmerkende akrobatiese flik-flak.

Breytie het in 2007 as 31-jarige onder Jake White­ die laaste van sy 64 drieë gedruk en sal onthou word vir sy spoed, aanvoeling, breë glimlag en sy driedruk-vieringe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters