Verlede maand
Een van SWD se grootstes
Werner Jeffrey  ~ Foto Verskaf

DIT sal maklik wees vir een van die groot uitvoerprodukte van sport in die Suid-Kaap om oor sy prestasies te wil brag.

Hy is immers een van die jongste spelers (15) om vir die Suidwestelike Distrikte se senior krieketspan te speel, altesame 16 eersterangse honderdtalle te moker, ’n hoogste telling van 164 te slaan en dan nog op die rugbyveld in ’n halfeindstryd van die destydse SA Cup te kon speel.

Vir Werner Jeffrey is sy werk van terugploeg in sport en sien hoe ander individue floreer sy grootste prestasie in sport.

En dié boorling van Mosselbaai, wat deesdae Windhoek in Namibië sy tuiste noem, het vir jou omtrént die CV as dit kom by achievements in sport.

Dit het alles in Mosselbaai plek gevat waar hy as mentor die pyplyn aangevoer het vir leerders van Laerskool Hillcrest en Sao Bras Sêkondere Skool om eendag vir die Mosselbaai-rugbyklub uit te draf en ander hoë prestasies te bereik.

Werksaam

“Kyk, ek is oorspronklik van Mosselbaai en ek en my vrou, Olivia, het in 1990 Windhoek toe verhuis waar ek tans as die hoof van sport by die Universiteit van Namibië (Unam) werksaam is,” sê Jeffrey.

“Ons het ses kinders en agt kleinkinders, en tussen al my verantwoordelikhede by Unam hou hulle my voete plat op die grond.”

DESTYDS: Werner Jeffrey (middel van middelste ry) as lid van die Mosselbaai-krieketklub. Foto: Verskaf

As deel van die afrigtingspan by Unam het Jeffrey gehelp dat die universiteit se rugbyspan drie jaar agtereenvolgens (2015 tot 2017) die Premierliga wen.

“Ek het ook al die rugbyklub Western Suburbs gehelp om die Premier en Eerste Liga te wen – iets wat nie een van die twee klubs voorheen kon regkry nie,” vang ou Jeffrey so ’n bietjie van ’n brag.

Dit is egter in krieket dat dié Mosselbaaier in sy aangenome land diep spore getrap het. Hy was al die direkteur van krieketontwikkeling in Namibië en het ook as nasionale afrigter vir dié land se o. 15-, o. 17- en o. 19-span opgetree.

Voordat Jeffrey as breier van die Namibiese o. 19-span oorgeneem het, het dié span nooit ’n wedstryd in hierdie ouderdomsgroep se Wêreldbekertoernooi gewen nie. Dit sou alles in 2002 verander toe Jeffrey vir die eerste keer in beheer was by die toernooi in Nieu-Seeland.

Al is hy nou nie in Namibië by rugby-afrigting op die hoogste vlak betrokke nie, het Jeffrey wel in sy hoedanigheid as hoof van Unam-sport seker gemaak meer spelers van dié universiteit word raakgesien vir die land se nasionale span.

Maar, terug na die SWD.

Hy vertel: “Toe ek nog in die SWD onderwys gegee het, was ek die afrigter vir die Suid-Kaapse skole in rugby, krieket en atletiek en ons (SWD) het die Suid-Afrikaanse Senior Skolesportvereniging (Sassa) se rugbytoernooi in 1985, 1986 en 1988 gewen.

“As krieketafrigter het die Suid-Kaap in 1985 in Stellenbosch tot die eindstryd teen Boland gevorder waar ons die louere gedeel het omdat die eindstryd uitgereën het.

“Dit was vir my ’n bittersoet-oomblik, want ek het ook die Boland-skole in krieket en rugby verteenwoordig voordat ek SWD toe is.

Veelsydige

“Ek was ook afrigter/speler van die Spring Roses- en Mosselbaai-rugbyklub. Ek het ook vir die Hewat-Onderwyskollege onder die City and Suburban-rugbyunie uitgedraf.

“As rugbyspeler vir die SWD was ek ’n veelsydige voorspeler, wat agtsteman, flank, haker en stut gespeel het, en as krieketspeler was ek ’n linkshandige kolwer en regterhandse medium-snel- en draaibouler, en SWD se paaltjiewagter.

“Toe ek Spring Roses verlaat om by Mosselbaai-klub te gaan speel, het Spring Roses se spelers en ondersteuners nie daarvan gehou nie. In my eerste wedstryd teen Spring Roses wou die ouens my op die veld afknou en toe die een ou nog met sy flying tackle kom, toe eet ek hom met die elmboog dat hy uitlê.

“Ek het in die wedstryd kort voor die einde die wenskop deur die pale gejaag. Ek het omgedraai en ’n buiging na die bestuur van Spring Roses gemik, want ons het die stryd gewen.”

SEWES: Onder Jeffrey se afrigting was Unam se sewesspan vir drie jaar onoorwonne. Dié foto is geneem by die World University Championships in Swansea, Wallis. Foto: Verskaf

Die Mosselbaai-rugbyklub het die besonderse prestasie behaal dat hy die SWD se NCCR-beker agt keer gewen het, sewe jaar in ’n ry vanaf 1983.

Moeilik

Van sy spanmaats in die SWD beskou hom as een van Mosselbaai se grootste sporthelde.

“Dis baie moeilik om met elke bal waaraan jy vat, goed of uitstekend te wees.

“Vat jy aan ’n krieketbal of jy boul of kolf, is daar lopies of paaltjies. Vat jy aan ’n rugbybal, is daar aksie of as jy pale toe skop en jy moet van die kantlyn aanlê, kan jou span wen of verloor. Soos voorheen gesê, het ek ook krieket gespeel vir die krieketklubs Sussex en die Opleidingskollege Suid-Kaap (OKSK) in SWD, asook vir St. Augustine en Victoria/Mets in die WP, terwyl ek die SWD verteenwoordig het.

“Vir baie spelers op Mosselbaai was my invloed en betrokkenheid by die klub ’n bate. Almal het gesê ek is SA Beker-materiaal, veral toe ek stut gaan speel het, want ek het ekstra krag na die skrum gebring.

“Waarop ek baie trots is, was my bydrae tot die ontwikkeling van jong spelers in Mosselbaai. Ek het ure se harde werk ingesit om spelers te ontwikkel en gehelp om Mosselbaai-klub ’n spelersfabriek te maak.

“Ek het gehelp dat SWD ook spelers van formaat kon oplewer vir die provinsie en ook vir die destydse Saru, al het ek nie self die eer gehad om Saru-kleure te verwerf nie.

STREEPTRUIE: Werner Jeffrey (links) saam met sy neef Hilton Abrahams (middel links), André Taute en sy ander neef Julian Pokkie (regs) in die kleure van Mosselbaai-rugbyklub. Foto: Verskaf

“Almal het agterna gesê my weggaan na Namibië het ’n groot afrigtingsgat gelaat en die leemte kan vandag nog in Mosselbaai gesien en gevoel word. Die huidige afrigter van die Barbarians-klub is nie plaaslik nie en jy kan aan die span se spel sien dat die legacy om vir Mosselbaai te speel, verdwyn het,” sê Jeffrey.

Geblaas

Sportlui van die SWD wat hy afgerig en wat later in hul onderskeie sportsoorte groot hoogtes bereik of naam gemaak het, sluit onder meer in Basil Duitsjan, Willem Amsterdam, Fred “GT” Amsterdam, Pietie Smith, Neil Simons, Rashael Avontuur, Richard Koeries, Greg Jansen, Dan Stevens en Ralph Taute.

Deur die jare het hy nie sy eie beuel geblaas nie en Jeffrey se nederigheid is een van sy deugde wat almal die meeste bewonder. En hy dank die Here daarvoor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters