4 maande gelede
Doring, die Maori-prins
RUSTIG DEESDAE: Thorne by sy huis in Aspen Heights.  ~ Charles Pullen

AS JONG seun van Hankey het Godfrey “Doring” Thorne nooit gedink hy sal met die titel van die “Maori-prins” gedoop word nie.

Dié Saru- en Sacos-rugbylegende was in 2001 op toer saam met die Cats na Nieu-Seeland as een van die span se hulpafrigters.

Die plaaslike inwoners van een van die stede waar hulle tuis was, het Doring toe met ’n Maori-prins verwar. Op dié toer het hulle toe omtrént lekker gelewe vanweë die verwarring.

“Vir een of ander rede het ek glo soos ’n oud-Maori-prins gelyk en toe die span dit uitgevind het, het hulle dit op sekere plekke tot hul voordeel gebruik. Van daar af het die span my heeltyd Maori-prins genoem, tot vandag toe,” lag Doring.

Son het met dié welbekende rugbylegende en vuurvreter-stut gaan gesels oor sy speeldae en afrigtingsloopbaan – selfs sy liefde vir die All Blacks.

Die 62-jarige lyk nog asof hy in die voorry kan sak.

Doring vertel hy het die rugbybal vir die eerste keer by Hankey Primêr opgetel toe een van sy onderwysers, wyle John Johnson, hom raakgesien het.

“Ek was ’n bietjie deurmekaar op laerskool en Mr. Johnson het my gewys wat gedoen kan word as ’n mens ’n bietjie dissipline toepas.

Opgeoffer

“Dis nie lank daarna nie dat ek toe die Gamtoos- en OP-skolespan gehaal het.”

HERINNERINGE: Doring onthou sy dae met die Cats in Nieu-Seeland. Foto: Charles Pullen

Hy vertel dis egter by die Hoërskool Gelvandale dat dinge ernstig begin word het met die sportorganiseerder en voormalige OP Rugby-president Patrick da Silva.

“Mnr. Da Silva het baie opgeoffer vir sy leerders en is een van my grootste inspirasies. Dis nou waar ek gesien het wat doen ’n onderwyser as hy omgee vir sy kinders.”

Hy vertel hy is bly dat Da Silva hom gehelp het, want in ’n latere stadium in sy lewe kon hy dieselfde doen vir sy leerders as onnie by Gelvandale en Sanctor, asook as skoolhoof by Hankey Sekondêr.

“Vir een of ander rede het ek op laerskool gedink ek is ’n skrumskakel. Da Silva het egter vir my gesê ek moet kom sak in die voorry en vandaar het ek nie teruggedraai nie.”

Doring vertel hy’t op hoërskool reeds begin klubrugby speel – in die vierde liga vir OP.

“Ons het deur die week skolewedstryde en Saterdae klubrugby gespeel. Ons het skoonskip gemaak in die vierde liga en dit gewen. Dis daar waar ek raak­gesien is deur die klubs en wyle Mike Stallenberg.”

Op skool in 1976 het Doring weer die OP-skolespan asook die Suid-Afrikaanse skolespan (Sassa) gehaal.

Sy liefde vir Nieu-Seeland se rugby het vroeg begin. Hy vertel spelers soos Brian Lochore en Sid Going was van sy sterre.

“Op skool het ons altyd gesê ons game plan was soos dié van die All Blacks. Dit is ook omdat my pa ’n groot ondersteuner was.”

AFRIGTER: Godfrey Thorne (voor, derde van links) met die OP-span in 2000. Foto Verskaf

Volgens Doring was hy baie geseënd om op elke vlak goed afgerig te kon wees – ook by Glen Roses deur die legendariese Stallenberg.

“Ek het oom Mike vanaf 1977 leer ken by Glen Roses en ons was goed in kontak met mekaar totdat hy twee weke terug oorlede is.”

Doring se tyd by OP het vroeg begin toe hy maar net 17 was.

Hy moes dit egter ná ’n jaar los toe hy in 1978 Kaapstad toe getrek het vir studies by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

“Maak nie saak watse ster jy was nie, jy’t op universiteit nooit in die eerste spanne begin nie. Ek was egter gelukkig. Ek het so een wedstryd vir die tweede span gespeel voordat ek opgeroep is.

Vertonings

“Vandaar het ek vir die volgende vier jaar vir die eerste span gespeel.”

Sy vertonings vir die UWK het hom toe ook ’n plek in die Tygerberg-span besorg.

Volgens hom is dit waar hy op die harde manier geleer rugby speel het.

“Tygerberg was natuurlik toe nog die provinsiale span en dit is waar ek teen baie legendes soos Salu Fredericks, Yussef Louw en Hardie Dolly in die SA Beker gespeel het.

“Hulle het my op die harde manier verwelkom,” lag hy.

Sy debuut in 1985 vir die Saru Sacos-span was ook baie spesiaal, vertel hy.

“My oudste dogter is daai Saterdagoggend op 22 Junie gebore en daarom sal ek dit nooit vergeet nie.

“Ek het nog vir die manne gesê as dit ’n laitie is, sal ek hom vernoem na die man wat eerste ’n drie druk,” lag hy.

Hy het egter in 1981 na OP teruggekeer, waar hy Glen Roses en OP toe weer as kaptein verteenwoordig het tot en met sy aftrede in 1992.

Thorne het reeds in 1982 sy afrigtingsloopbaan by die Hoërskool Gelvan­dale begin. Nes in sy speeldae het hy as breier uitgeblink.

Nadat hy by Harlequins en die OP B-span goed gevaar het, is hy kans gegee om hom by die Cats se afrigtingspan aan te sluit vir die Super 12. Hy het hy saam met die Nieu-Seelandse breier Laurie Mains gewerk.

DEBUUT: Doring in sy eerste wedstryd vir Tygerberg. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters