5 maande gelede
Donnie was ’n don
FLINK: Donnie Ronnie (ProX1) in aksie.  ~ Foto Verskaf

SY PASSIE vir sokker en die wilskrag om homself te bewys was só groot, hy het teen sy eie ma se wense gegaan – met groot respek, natuurlik.

Dit is mos ook nie almal wat destyds so te sê ’n second bite of the cherry kon kry nie. En wie sou dan nou daai jare nee gesê het as die mighty Santos aan die deur kom klop het?

Selfs sy haters sal moet toegee daar was nie baie met sy gentleman-tipe figuur wat soos hy kon dribble en met die bal kon hardloop nie.

Donavan “Donnie” Ronnie (58) was en is steeds so ’n gentleman soos in sy speeldae. Hy is goed gemanierd, bedagsaam, respekvol en ’n ware rolmodel vir sy kinders en vriende.

Ronnie het ongelukkig nie die big break gekry nie, maar sy heldedade in die plaaslike sokkerkringe is oorgenoeg om hom legende-status te besorg.

Don’t be fooled. Donnie Ronnie kan net so komieklik wees soos sy naam, wat lekker van die tong afrol.

Die Santos- en Wolverhampton-legende vertel hulle moes weens die Groepsgebiedewet uit Claremont na Heideveld trek. Dit was vir almal ’n gatslag.

Ironies genoeg was dit toe dat Ronnie die tricks of the trade geleer het.

“Dis waar ek baie van soccer development en groei ervaar het,” vertel hy.

“Daar het my pad gekruis met dié van manne soos Nevin Payne, Rashaad Davids en Rashaad Rogers.

“Die spelers het ook pro gaan speel.

“Daar is só baie goeie memories. Ek onthou ons het altyd in die pad sokker gespeel, maar op die beknopte pavement.

Blootstel

“Dit was nie maklik nie en dis seker waar ek my dribbling skills aangekweek het.

“Jy moes goed kon dribble en goeie ball control gehad het om op die nou pavement te bly,” onthou hy.

WP-AMATEUR: Ronnie (voor, tweede van regs) in 1985.

Ronnie se ouer broers, Derrick en Roger, het ook ’n groot rol daarin gespeel om hom aan die game te help blootstel.

“Ek kan nog onthou: Ek en Roger het die laaste game van die seisoen vir Wolves gaan speel. Ons was nog unregis­tered.

“Maar dit het my nie gekeer om ’n hat-trick – in sand shoes nogal – te score nie.

“Ek was jonk, maar dit was vir my ’n spesiale en onvergeetlike oomblik.”

Verbreek

Toe Ronnie so rondom 18 jaar oud was, het hy sy bande met sy tweede klub, Sinton, verbreek.

Die jong man was op soek na groener weivelde.

“Dis toe dat ek pro draai en vir Santos gaan uitdraf,” vertel hy.

“Dit was ook ’n huge step up van waar ek gekom het en ietwat van ’n reality check vir my, jy weet.

“As iemand wat altyd ’n regular in my span was, het ek geleer dit maak nie saak hoe goed jy dink jy is nie.

“Ek moet bieg en sê: Dit was nogal vir my ’n confidence shock.

“Dis toe dat ek besluit om weer amateursokker te gaan speel.”

Intussen is Ronnie gekies vir die Westelike Provinsie-span. Die manne het in Pietermaritzburg ’n toernooi gespeel.

“Daar was baie van die rival spanne en hulle greats.

“Cape Town Spurs het ook aan die toernooi deelgeneem. Dis daar waar ek getempt was om vir hulle uit te draf, maar my ouers, ma Joyce en pa Edwin, wou niks hiervan weet nie.

“Dis omdat ons sterk Sacos-beginsels het, jy weet.

“ ‘No normal sport in a abnormal society’ is die slagspreuk waarvolgens ons geleef het.

“Ons was bereid om enige iets op te offer dat geregtigheid kan geskied.

“Om aan die ander kant te speel, was iets wat toe nog nooit my mind gecross het nie,” vertel Ronnie.

Dié wat Santos se games of enige ander sokkerwedstryd in die Athlone-stadion aanskou het, sal ook weet van die kruie wat fans die wolke in opgestuur het.

“Hulle het dit die Donnie Ronnie (dagga-)pakkies genoem,” vertel Ronnie.

“Hulle het gespot en gesê as die manne daai dagga rook, maak dit hulle net só vinnig soos ek op die veld,” skerts hy.

GEDUG: Ronnie met sy John Player Award in 1989.

As speler moes Ronnie destyds baie flack van die opposisie se fans trotseer.

“Dis mos omdat ek in die turnstile gestaan en kaartjies verkoop het van die wedstryd waarin ek gespeel het.

“Die fans sou kom en my lekker vertel hoe ons gaan verloor.”

Ronnie, die laaste Federation Professional League-speler van die jaar, is deesdae deel van die Western Cape Legends.

Dis gestig om spelers van yesteryear te help wat finansiële bystand nodig het.

“Ons het ’n ruk gelede lekker saamgekuier met van die ander legendes uit ons era. Dit was lekker om die manne se stories te hoor en hoe hulle jou as mens en speler gesien het.

“Dis ’n validation as jou opponents jou vertel hoe gevrees jy as speler was en hoe lugtig hulle vir jou was,” verklap hy.

Sekondes

Ronnie vertel een van sy beste oomblikke was in die 1990 Knockout final teen Tongaat Crusaders.

“Daar was 27 sekondes oor toe ek die equaliser vir ons kry. Dit was magic.

“Ons het die reply met 5-2 gewen.”

Ronnie het sy vrou, She­ryl, in die vroeë 1990’s ontmoet. Hulle het saam drie kinders – Amy, Michael en Jason.

“Dis toe ek die commitment aan die Here gemaak het dat ek my fokus en energie na my familie geskuif het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters