Verlede maand
Donkieveld het Patat help slyp
VANDAG: Dawn Arendse (69) sien goed daarna uit.  ~ Shafiek Mouton

DAWN Arendse word deur ’n voormalige spanmaat beskryf as “die stylvolste skrumskakel wat ek al ooit teëgekom het”, maar “moenie op Dawn se stert trap nie, dan sort hy jou vinnig uit”.

Arendse, of Patat, soos hy ook genoem is, het in die fleur van sy lewe die hoogste sport bereik deur vir die Saru-span te speel.

Vandag is hy ’n 69-jarige pensioenaris wat sy aftrede terdeë geniet.

Son het Donderdag by die voormalige Boland- en Saru-skrumskakel in Wellington gaan kuier.

Hy is in 1952 in Robertson gebore voordat hy as jong kannetjie Wellington toe getrek het.

“Ons is predikantskinders, sewe broers en ’n suster, van Robertson. Toe ek in standerd 3 kom, het ons Wellington toe verhuis.

“Ek het reeds daar in Robertson as ’n kaalvoetseuntjie my vaardighede geslyp en ontwikkel – daar op Donkieveld.

“Daar het ek skouers geskuur met groot figure soos Edgar Siljeur. Julian Smith en ander was ook daar. Ek het baie by hulle geleer. Ek het toe by Pauw Gedenk in Wellington skoolgegaan voordat ek na die Hoërskool Bergrivier is,” voeg Arendse by.

Hy het op hoërskool uitgeblink in rugby, krieket en tennis. Soveel so dat sy afrigters dikwels slaags was oor waar die jong Arendse eintlik moes wees.

Hy onthou: “Daar was dae waar ek moes tennis speel, maar terselfdertyd is ek vir Boland se krieketspan gekies.

“My krieketafrigter moes toe my arm draai.

“Ek het toe tot groot teleurstelling in Worcester gaan krieket speel.”

Terug in Wellington het Arendse ook naam gemaak in rugby.

“Ek en Morgan Moon­samy het altyd so beurte gemaak; dan speel ek agtsteman en hy skrumskakel en dan ruil ons weer. Ek het toe by Newclares-rugbyklub in Wellington aangesluit en as 17-jarige my debuut vir die Boland se seniors gemaak.

“Omdat my pa dominee was, het ons dikwels by mense loseer.

“My losies-ouers was baie streng en gesteld oor boeke.

“Ek moes toe maar dikwels met my toks onder my arm uit die huis sluip. Niks sou my toe van die veld af gehou het nie.”

AL AG ’CLARES! Arendse, voor, derde van regs, in 1983 met Newclares. Foto: Verskaf

Hy is in die vroeë 1970’s Pentech toe waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Hy onthou daar was baie goeie skrumskakels op die toneel in dié jare.

“Hier in Wellington was Jamesy Douman ’n baie goeie skrumskakel vir wie ek baie respek gehad het. Cassiem Jabaar van WP was ook in ’n klas van sy eie.

“Ek het ook groot waardering vir skrumskakels soos Ju­lian Smith en Timothy Gelderbloem gehad. Dis manne wat my aangespoor het en die kompetisie en mededinging was tough. Hulle was almal great.”

Tydens sy Pentech-jare het Patat vir Tygerberg uitgedraf, maar by sy terugkeer het hy die kaptein van Boland geword.

In 1978 is hy opgeroep na die Saru-span. “Ons het in PE proewe gaan speel. Ek, Julian en Timmy was die skrummies en soos ek gesê het, was die mededinging tussen ons baie sterk. Ek moes toe uithaal en wys, maar het toe die regmerkie gekry,” vertel hy trots.

Sterk

So, hoe sal Arendse sy skrumskakel-spel beskryf?

“Ek was nogal nippy,” vertel hy skamerig.

“Ek het ’n geweldige lang aangee gehad wat beteken het my losskakel het genoeg spasie gehad om sy besluite uit te oefen.

“Ek het altyd my losskakels probeer beskerm en wou altyd hê hulle moes gerieflik lewe.”

Hy beskryf sy Newclares-skakelmaat, Julian “Toekels” Abelse, as die beste losskakel saam met wie hy gespeel het.

’n Goeie aanduiding van Arendse se nederigheid is die feit dat hy nie graag oor sy prestasies wil praat nie. Hy noem maar ook so terloops dat hy provinsiale kleure in krieket verwerf het en beskryf homself as ’n kolwer wat bietjie as draaibalboulers aangewend is.

OP DIE AANVAL: Patat gaan op loop vir Boland. Foto: Verskaf

Arendse sê rugby in Saru-geledere destyds was van ’n goeie gehalte.

“Ons het goeie, sterk spelers gehad wat nie vir enigeen sou terugstaan nie. Ons sou goed gekompeteer het teen enige blanke span van daai tyd.

Trouens, ons het destyds die wit Boland, Dawie de Villiers en daai manne, uitgedaag om teen hulle te speel. Hulle het egter ge­weier om teen ons te speel.

“Ons het in daai stadium ’n geweldige goeie Sacos Bolandspan gehad en was gretig om hulle ’n ding te wys,” vertel hy laggend.

Voorgestel

Hy sê dit was vir hom ’n eer om in “meer as 100 wedstryde” vir die Boland te speel en hulle aan te voer. Hy moes egter in 1977 die SA Cup-eindstryd misloop.

Hy vertel: “Dit was my troudag en dit word mos lank voor die tyd gereël. Die bestuur het my kop probeer vrot praat en voorgestel ek moes later trou.

“Ek was egter vasbeslote om met my liefling, Bere­nice, te trou. Ek moes trou anders sou ek eenkant gelaat word,” vertel hy laggend.

“Boland het ongelukkig die eindstryd verloor.”

Ná sy speeldae was hy ’n hulpafrigter by Boland en ook voorsitter van New­clares. Hy het by Weltevrede Sekondêr onderwys gegee en was ook by Sasssa en Usassa betrokke as ’n administrateur.

TOEKA SE DAE: Arendse het sy geliefde Newclares met onderskeiding gelei. Foto: Verskaf

Randy Marinus, ’n voormalige Saru-kaptein en Arendse se opvolger in die Bolandspan, sê hy het baie by Patat geleer.

“Dawn was ’n great skrumskakel en kaptein. Ek het so baie by hom geleer. Hy het nie baie óf hard gepraat nie, maar die manne was gedissiplineerd onder hom en het hom gerespekteer.”

Arendse en Berenice is al 44 jaar getroud en het drie kinders en ses kleinkinders.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters