3 maande gelede
Diener bly dankbaar vir rugby
LEIER: ’n Onlangse foto van Jackie Abrahams.  ~ Gallo Images

JACKIE Abrahams is die toonbeeld van dienende leierskap.

Toe Son die voormalige Boland Rugby-president en Springbok-spanbestuurder kontak vir dié onderhoud, antwoord hy teësinnig: “Ek is regtigwaar nie ’n ou vir die spotlight en media nie.”

Son moes omtrént paai en mooipraat en kon eindelik sy arm genoeg draai om te gesels oor sy roemryke loopbaan in rugbyadministrasie, wat in 1970 begin het.

Die nou 77-jarige Abrahams geniet die rustigheid van die afgetrede lewe, hoewel hy nooit gedink het hy gaan alleen oud word nie. Sy vrou, Francis, is ’n paar jaar gelede oorlede.

Terwyl ek en oom Jackie, soos oud en jonk hom noem, gereedmaak vir die onderhoud, praat ons oor die Wêreldbeker. Hy noem iets wat my onmiddellik van trots laat swel: “In my tyd (by die destydse Sarvu) het ons drie World Cups gehad.

“Ek was nie by die 1999- (Frankryk) en 2003-toernooie (Australië) nie. Ek het gevra dat hulle die geld wat hulle begroot het vir my vir reis, verblyf, ensovoorts, in Boland se rekening betaal dat ons dit kon aanwend vir rugby-ontwikkeling in die Jack Abrahams-huis.”

Hoogtes

Dié rugbyakademie by die Boland-stadion in Wellington is na Abrahams genoem.

Dit het in daai tyd spelers opgelewer soos Ashwin Willemse, Wayne Julies, Ricky Januarie en ander wat groot hoogtes bereik het.

Abrahams se reis het egter baie jare tevore reeds in Wellington begin.

TOEKA: ’n Jong Abrahams as voorsitter van Pirates. Foto: Verskaf

Oom Jackie vertel: “Ek is in 1944 in Wellington gebore. Ek is die oudste kind van Frank en Christina Abrahams. Ons was drie susters en sewe broers, van wie almal vir Pirates gespeel het.

“Ek was ’n losvoorspeler by Pirates en ná my speeldae het ek my toegespits op die administrasie van rugby.

“In 1970 (hy was toe net 26 jaar oud, herinner ek my weens my gebrekkige wiskunde in my gedagtes) is ek gekies as Pirates-voorsitter.

“Ek het later die voorsitter geword van die Wellington en Distrikte Rugbyunie – voordat ek eers vise-president en later president van Boland geword het.

Vrylating

“Boland was ’n goed georganiseerde liggaam met besonderse leiers soos mnr. Johnny Neethling, mnr. Adendolf en mnr. Sambaba en ek kon net die werk voortsit.

“Ek het die Boland verteenwoordig op Saru-vergaderings, wat destyds gelei is deur mnr. Abbas en later mnr. Patel. Ek was ook voor eenwording een van die Saru- nasionale keurders.”

Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het samesprekings tussen die rugbyraad van Saru onder leiding van Patel en Danie Craven van die SA Rugbyraad plaasgevind.

Oom Jackie vertel verder: “Ek was saam Abe Malan span­bestuurder van die Springbokke en het ook as nasionale keurder gedien.

“In 1993 is ek gekies as Boland-president en ek het gedien tot en met my uittrede in 2009.

“Ek was 16 jaar die on­bestrede president. Ek sê dit met alle nederigheid.”

DIE EINDE: Abrahams het tot 2009 as Boland-president gedien. Foto: Verskaf

Hy voeg by: “Ons het Springbok-spelers en -afrigters opgelewer en dinge het vir die grootste gedeelte goed verloop.

“Die akademie het in daai stadium so goed gedoen dat ons twee Jack Abrahams-huise gehad het.

“In my tyd was alles egter nie altyd maanskyn en rose nie. Daar was byvoorbeeld in daai tydperk twee spelers wat op die veld gesterf het. Dit is baie hartseer.”

Geamputeer

Abrahams raak vir ’n wyle stil terwyl hy in die verte staar.

“Daar was in daai stadium ook blanke klubs soos Malmesbury, Moorreesburg en Rawsonville, maar hulle het later verdwyn, wat hartseer is. Ek het slegs uitgetree omdat ek by die huis meer aandag aan my vrou wou skenk, aangesien haar been geamputeer is.

“Ek was dit ook aan haar verskuldig, aangesien ek die res van my getroude lewe aan rugby gewy het. Ek is egter baie dankbaar vir die rol wat rugby in my lewe gespeel het. Ek bly van mening dat jy rugby en die mense moet dien en nie jouself nie.

Kaal

“Rugby gaan vir my oor mense. Ek was by baie nasionale spanne betrokke en rugby het my die wêreld laat sien en daarvoor is ek die spel ewig dankbaar. Dit het my lewe verryk.”

Hoewel die spel Abrahams se lewe verryk het, het hy nie vandag die voordele wat ander administrateurs daaruit put nie. “Ek kan onomwonde sê dat ek kaal in rugby gekom het en ek het kaal uitgestap.”

Hy mis duidelik sy sielsgenoot, maar het tog tyd vir ’n laaste grap. “Ek het altyd vir my vrou gesê: Dis net die eerste 50 jaar van die huwelik wat moeilik is,” sê hy terwyl hy skater van die lag en tot siens waai.

Oom Jackie en oorlede antie Francis, het ’n dogter, Frances Cerf (36). Sy is getroud met Irwin.

SARU: Abrahams as voorsitter van Boland Saru in 1991. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters