Verlede maand
Die Kaap se eie 'power couple'

TOE Kevin Johnson in 1997 nie ’n clearance certificate kon kry om Santos te verlaat nie, het hy daar en dan besluit om sy sokkerloopbaan kort te knip.

Kevin het toe terug­gekeer na bofbal, die sportkode wat volgens hom maar altyd die topplek in sy hart beklee het.

“Ek dink dit was waarskynlik ’n bedekte seën dat ek nie verder gegaan het met my sokker nie.

“Ek het teruggekeer na bofbal en dit het my nie lank geneem om die nasionale span te haal nie,” sê die 51-jarige Kevin oor sy sportloopbaan, wat vele hoogtepunte insluit.

Kevin sê hy het baie goeie herinneringe aan sy sokkerdae en beskou die Coke Cup-eindstryd in die FNB Stadium in Johannesburg as een van die hoogtepunte in sy loopbaan.

Dit was egter deur bofbal dat hy die kans gekry het om die wêreld vol te reis.

“Ek onthou nog my deelname aan die Olimpiese Spele in Sydney in 2000. Dít was iets onvergeetliks en ’n baie spesiale oomblik vir my.

Uitstaan

“Dít en my eerste pos as hoofafrigter, toe ek in 2018 die nasionale o. 15-span na die World Cup in Panama geneem het, is van die gebeure wat kop en skouers bo die ander uitstaan.”

Die veelsydige speler het in 2001 aan die Wêreld­beker-toernooi in Taiwan deelgeneem. Tussen 1995 en 2003 het hy Suid-Afrika ook in Kaapstad teen Italië en in toernooie in Kuba, Nederland en Australië verteenwoordig.

Hy is sedert 2014 lid van die nasionale o. 15-afrigtersgroep. Kevin sê sukses in die sportwêreld kom nie sonder klipharde werk nie.

“Talent alleen sal jou nie sukses bring nie. Ek het al in my jong dae besef dat harde werk beloning bring.”

Hy het in sy skooldae by York Road Primary en Groenvlei High aan alle sporte deelgeneem.

“Destyds was dit anders as nou. Daar was toe nog seisoene vir die verskillende sportsoorte en dít het dit makliker gemaak om aan vele sporte deel te neem.”

“Op skool was dit nooit regtig nodig om ’n keuse te maak nie.”

Toe Kevin egter in 1989, ’n jaar ná matriek, ’n beroepskontrak met Santos onderteken het, moes hy ál sy fokus op sokker plaas.

Hy het as 8-jarige begin sokker speel by Wolves, die klub waar sy oom Roland Trout die voorsitter was.

Hy het by die Wolves-bofbalklub by een van die heel bestes geleer. Sy swaer­, die legendariese André Alexander, het by dié klub die septer as afrigter geswaai.

Bankvas

Kevin sê sy ouers, Douglas en Sheila, was albei sportmal, maar sy pa was meer van ’n rugbymens. Douglas is ’n life member van Temperance-rugbyklub.

“My ouers het altyd bankvas agter my gestaan wanneer dit by sport gekom het. Hulle was altyd daar om ondersteuning te bied terwyl my ma ook moes seker maak dat ek al die regte kos inkry.

“Dit is nogal belangrik, veral vir iemand soos ek, wat beroepsokker gespeel het en op internasionale vlak in bofbal meegeding het.”

In 1996 het hy nog ’n groot stap in sy lewe gedoen toe hy met Janine (née Jones) getrou het. Dié egpaar kan waarskynlik as een van die power couples van Kaapse en Suid-Afrikaanse sport beskou word.

Die 50-jarige Janine is ’n voormalige provinsiale en Suid-Afrikaanse sagtebalster. Sy was ná eenwording lid van die Westridge Yankees-span wat almal voor hom uit die pad gevee het.

Haar grootste oomblik het in 1998 gekom toe sy Suid-Afrika in die Wêreldbeker-toernooi in Japan verteenwoordig het. Teen 2002 was Janine die kaptein van die SA span in die World Cup in Kanada.

Maar dit is ook nie waar die Johnsons se sportprestasies stop nie. Hulle het twee kinders wat ook al besig is om hul merk in sportgeledere te maak.

Die 20-jarige Jesse studeer tans aan Bemidji State University in Amerika, waar hy ook bofbal speel.

Hul dogter Kelly (18) het al provinsiale kleure in hokkie en is tans in matriek.

Volgens Kevin mik sy ook reeds na studies in Amerika. “Ons is baie hard op hulle wanneer dit kom by commitment, maar sal nooit onnodige druk op hulle plaas nie. Selfs wanneer ons hul wedstryde bywoon, raak ons nie betrokke nie,” sê die trotse pa.

Vordering

Kevin is tans die voorsitter en head coach van die VOB Baseball Club in Lansdowne én die nasionale o. 15-span se coach, asook een van die nasionale senior span se hulpafrigters.

“Ek is self-driven en moet elke jaar vordering sien, anders mors ek my tyd. Ek word geïnspireer deur mense wat uit niks uit sukses in die sportwêreld kan bereik.”

Kevin werk in die Stad Kaapstad se waterafdeling as ’n quantity surveyor wat spesialiseer in tenders en kontrakte.

En ja, hy dink dit is tragies dat sy voormalige Santos-span deesdae so erg sukkel om kop bo water te hou in SA sokker.

“Die loss vir die gemeenskap is veel groter as wat mense besef. Dít was regtig die People’s Team...”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters