Verlede maand
Dié Donkie is 'n wonderlike ding
TROTS: Jerome “Donkie” Booysen, president van die Belhar-rugbyklub, spog met al sy bekers en sy span se prestasies deur die jare. Foto: ADNAAN MOHAMED  ~ 

NIEMAND is ’n hero nie en niemand is untouch­able nie, maar wanneer jy opreg lewe, behoort jy altyd orrait te wees.

Volgens Jerome “Donkie” Booysen is dít die filosofie wat hom oor die jare aan die gang gehou het.

Die 56-jarige voormalige kookwater senter van Saru het vandeesweek in ’n eksklusiewe onderhoud by sy luukse huis in Glenhaven in Bellville met Son gesels.

Hy vertel: “As kind het ek in die blokke in Kewtown oorkant Athlone-stadion opgegroei. Daar was nie ’n rugbyklub nie.

“My pa, Arthur, en sy broers was eers betrokke by die Ane­mones-rugbyklub in Athlone.

“Daarna het hulle hulle aangesluit by die Meltons-rugbyklub in Elsiesrivier, waar my pa gewerk het.

“In 1976 het ons verhuis na Belhar, waar ek junior rugby begin speel het.

“Winston Simons was my mentor op junior vlak. In 1979 was ek ’n leerder by die Hoërskool Belhar.”

In 1982 het Donkie WP Skolerugby gespeel en in 1983 is hy as onderkaptein van die SA Skolespan aangewys. Clifford Booysen het ’n groot rol gespeel in sy skolerugby.

Ná skool het Booysen Tyger­berg se senior span verteenwoordig. In 1990 en 1991 het hy die Saru- nasionale span gehaal.

In daardie twee jaar was Allister Coetzee, die voormalige Springbok-afrigter, sy kaptein.

Ivan Jacobs en Joslyn Ontong van Boland was sy sentermaats.

Donkie onthou: “Ons was van verskillende unies, maar in die Saru-span het ons saam gespeel. Wanneer ek terugkyk, was my Saru-jare die beste. Ons het goeie rugby gespeel en ek het myself baie geniet.

“Benewens my pa was Millin Petersen ’n invloedryke persoonlikheid in my senior rugbyloopbaan.

“Ek was destyds maar baie klein en jonk. Wanneer jy kyk hoe die vlugvoetige Cheslin Kolbe laas jaar in die World Cup uitgestaan het, is dit genoeg bewyse dat ons dit dalk ook sou gemaak het as ons dieselfde geleenthede gekry het.

Gelyktydig

“Dit gaan nie oor hoe groot jy is nie; dit gaan oor jou hart en gedagtes.”

“Ons was vier broers wat vir Belhar rugby gespeel het. My pa het die Belhar Senior Rugbyklub in 1982 gestig. In die 1980’s het ons vier broers gelyktydig in dieselfde span gespeel. Om al vier saam in die eerste span te speel, was ongelooflik.

“Dit was vir my die beste jare. Ons het almal in die agterlyn gespeel. Ek en my een broer, Colin, was die senter-kombinasie. Michael was ’n vleuel en my jongste broer, Percy, was ’n skrumskakel.”

Booysen sê almal het hom altyd gevra waar hy sy bynaam, Donkie, kry.

“Ek is van kleins Donkie Booysen gedoop en dit het maar al die jare so gebly. Ek kan eerlikwaar nie onthou waar dit ontstaan het nie.”

Donkie se pa het in 2005 afgesterf. Hy is die oudste van die broers en hy het in 2007 die leisels by die klub oorgeneem.

“Rugby is destyds vir die passie gespeel. Vandag gaan dit meer oor die benefits. Dit is wat dinge so moeilik maak.

“Dit is ook baie moeilik om die jeug van die (verkeerde) pad af te hou, maar dis goed om hulle by sport te kan betrek om weg te bly van drank en dwelms. Dit kos egter baie geld en dis moeilik vir die klubs om te survive,” verduidelik hy.

Donkie het oor die jare goeie verhoudinge aangekweek met veral Coetzee en ander voormalige Bok-breiers soos Peter de Villiers en Rassie Erasmus, die huidige direkteur van SA Rugby (Saru).

Hy is ook goed bevriend met die president, Mark Alexander, en die adjunkpresident, Kaballie Davids.

“Ja, ek is nog goed bevriend met hulle, onder andere. Dis baie belangrik dat ons mekaar respekteer en eer. Dit is great dat ons almal by rugby betrokke kan wees en mekaar kan verstaan en verdra.

“Ons praat vandag nog gereeld met mekaar.

“Die World Cup laas jaar was ’n groot hoogtepunt. Alles het goed uitgewerk, veral met hoe die span getransformeer is.

Verteenwoordig

“Rassie het ’n goeie job gedoen en hy het boonop voldoen aan die transformasievereistes.

“Dit is genoeg bewyse dat ons in ons tyd ook goed genoeg was om ons land te kon verteenwoordig.

“Rassie is ’n people’s person. Hy pas hom oral goed aan. Dit is ’n baie belangrike eienskap van iemand in so ’n posisie. Ek glo dit het net sy taak vergemaklik.

“Ons lewe in moeilike tye. Die Belhar-rugbyklub is al jare betrokke by voedingskemas vir die armes. Solank ek nog lewe en ’n lid is van die Belhar-rugbyklub, sal dit altyd die geval wees dat ons mense voed.”

Donkie se eerste job was by Woolworths, waar hy in die kombuis potte gewas het. Hy was 21 jaar ’n boubeheerbeampte by die Kaapstadse munisipaliteit, totdat hy in 2006 uitgetree het.

Booysen sê hy is deesdae ’n property mogul en spekuleerder.

Hy is betrokke by die koop en ontwikkeling van eiendom oor die hele Wes-Kaap.

“Ek is besig met studenteakkommodasie en ek het grond gekoop om ’n gebou op te sit om my pa te vereer.”

Oor die aantygings dat hy by bendebedrywighede betrokke is, sê hy: “Dit is mos maar ’n ou storie. Daar is baie jaloesie.

“Ek het nie gangsterism en sulke goed nodig in my lewe nie, maar ek vergeet ook nie waarvandaan ek kom nie.

“Wanneer jy streetwise is, kan mense maar vir jou noem wat hulle wil.

“Solank jy net weet wie jy is en wat jy is.

“Ek wil net by my familie wees. Onthou, moenie jou vriende vergeet wanneer dinge goed verloop nie; jy mag hulle dalk net in die toekoms nodig hê wanneer dinge afdraand gaan.

“Dit is nie dat ek untouch­able is en bang moet wees vir my eie skaduwee nie. Dit maak van jou ’n volmaakte mens wanneer jy net jou eie besigheid doen.

“Ek het nog nooit in my lewe gedrink en gerook nie.

“Ek kan nie sê ek was dronk of gedrug toe ek dinge gedoen het nie.

“Vandag se lewe gaan baie oor jou geskiedenis.

“Om jou geskiedenis mooi te laat lyk, moet jy terugploeg en onthou waarvandaan jy kom, wat jy geleer het en hoe jy dinge regstel.” 

Lyfwagte

Tot dusver was daar al ses pogings om Donkie te vermoor.

Hieroor sê hy: “Ek is nie een van daai ouens wat bang is vir my eie skaduwee nie.

“Sommige mense het sowat 20 lyfwagte om hulle te beskerm. Dit lyk soos ’n entourage wanneer hulle aankom.

“Ek kan loop waar ek wil. Niemand is ’n hero nie en niemand is untouchable nie, maar ek dink as jy opreg lewe, behoort jy altyd orrait te wees.”

Donkie in aksieFoto VERSKAF
Donkie op die aanvalFoto VERSKAF
KOOKWATER: Donkie op die aanval in die kleure van die Tygerberg-rugbyunie.
LEGENDES: Donkie het die SA Legendes vyf keer verteenwoordig in lande soos Bermuda, Hongkong en Japan.
BLOEDBROERS: (van links na regs) Colin, Percy, Jerome en Michael Booysen.
SPRINGBOK: Booysen (voor, derde van links) en sy Saru-spanmaats in 1991. Hy het in 2007 die leisels by die Belhar-rugbyklub oorgeneem.FOTO’S VERSKAF
TROTS: Jerome “Donkie” Booysen, president van die Belhar-rugbyklub, spog met al sy bekers en sy span se prestasies deur die jare. Foto: ADNAAN MOHAMED
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters