Verlede maand
David se vlam brand nog
David Kannemeyer  ~ Natheer Marshall

DAVID Kannemeyer kan met sy vyf Premiersokkerliga-titels as een van die suksesvolste spelers ooit in Suid-Afrikaanse sokker beskou word.

Wanneer daar egter met dié 44-jarige boorling van Ottery op die Kaapse Vlakte oor sy loopbaan gesels word, is daar een hoogtepunt wat kop en skouers bo die ander uittroon.

“My deelname aan die Olimpiese Spele in 2000 in Australië is sonder twyfel my grootste oomblik in sokker. Dit was ’n onvergeetlike tyd in my lewe.

Spele

“Dit was baie spesiaal.

“Nie elke speler kan sê dat hy die kans gekry het om voor duisende mense in die openingseremonie van ’n Olimpiese Spele uit te stap nie,” sê Kannemeyer met trots.

Dis nie asof daar nie ander groot oomblikke in sy sokkerloopbaan was nie. ’n Speler wat vir Ajax Cape Town, Kaizer Chiefs, Mamelodi Sundowns én SuperSport United uitgeblink het, moet ’n boek vol kan skryf oor sy onvergeetlike oomblikke.

En dit is beslis ’n lang pad van waar dié voormalige Sunday League-ster sy sokker op die hobbelrige velde van plekke soos Parkwood, Athlone, Hanover Park en Mitchells Plain gespeel het.

Kannemeyer sê sy pa, Edward, het sy eie sokkerspan gehad en dit is hier, in die kleure van Rangers, waar hy die bal op ’n Sondag begin tokkel het.

Hy sê die familie het nie ’n kar gehad nie en sy pa het hom op ’n bicycle oefenveld toe gelift. Soms moes ’n familievriend, Leon Martin, ook dié job doen.

“Ek het baie te danke aan my ouers, Edward en Cristina Kannemeyer. My vyf susters het natuurlik ook ’n groot rol gespeel om my aan te moedig. Toe ek eers sien dat ek ’n kans staan om ’n sukses van dié loopbaan te maak, het ek myself belowe dat ek heel eerste gaan sorg dat ek my ouers uit die gang infested area kry en vir hulle ’n beter lewe gee.

Aangryp

“En ek kan met trots sê dat dit so gebeur het. Sonder sokker kon ek baie maklik ’n gangster geword het. Ons het in Kiepiesdorp in Ottery gebly en later in die flêtse.

“Dit is nie ’n maklike lewe nie, maar in sokker het ek iets gekry waar ek myself kon express en vir al die regte redes die aandag van ander aangryp.”

Kannemeyer vertel dat hy op skool altyd in sport belanggestel het.

“Ek het in klompie sportsoorte uitgeblink, veral in sokker, tennis en atletiek.

Dryfkrag

“Ek het een jaar die WP-atletiekspan gehaal, maar op die dag van die byeenkoms moes ek ook die WP-sokkerspan verteenwoordig. Ek het toe besluit om sokker te gaan speel. En soos hulle sê, die res is history.”

Kannemeyer sê daar was ná dié dag geen terugkyk nie. “Sokker was in my bloed. Ek moet sê op skool het mnr. Urion (Plantation Primary) en mnr. Newman (Lotus High) ’n groot rol gespeel. Hulle was die dryfkrag agter my vroeëre sukses en ek is baie bly dat hulle nou met trots kan sê dat hulle gehelp het om ’n Olympian op die regte pad te plaas.”

So gepraat van die Olympics. Kannemeyer sê die span van 2000, wat deur Shakes Mashaba afgerig is, was ’n uitstekende eenheid, met spelers soos Benni McCarthy, Quinton For­tune, Matthew Booth, Siyabonga Nomvethe, Steve Lekoelea, Fabian McCarthy, Delron Buckley, Aaron Mokoena en ander.

“Ons het lank as span saamgespeel en almal in die groep se doel was om eers die land vir die Spele te laat kwalifiseer en daarna goed te doen op die Spele.

Daar word steeds gepraat van Amaglug-glug se oorwinning met 3-1 oor Brasilië (met die gevaarlike Ronaldinho in sy geledere) op dié Spele.

“As Suid-Afrikaanse sokker net die regte visie gehad het, kon daar met dié uitstekende groep spelers groot sukses vir die land op die sokkerveld gewees het.”

Kannemeyer, wat Suid-Afrika ook op o. 20- en o. 23-vlak verteenwoordig het, het 24 wedstryde vir Bafana Bafana gespeel.

Hy sê dit is hartseer om deesdae te sien hoe sokker in Suid-Afrika agteruit beweeg. “Daar is net nie genoeg mense by dié sport betrokke wat deur passie gedryf word nie. Meer oud-spelers moet betrek word.”

Verberg

En oor sy geliefde Ajax Cape Town (wat nou Cape Town Spurs is), kan Kannemeyer ook nie sy teleurstelling verberg nie: “Dit was die eerste klub waar ek ’n groot titel (die Rothmans Cup in 2000) gewen het. Die agteruitgaan van dié klub gaan my verstand te bowe.

“Daar is só baie oud-Ajax-spelers wat gereed staan om uit te help, maar hulle word nie raakgesien nie.”

Kannemeyer en ’n sake-vennoot, Devan Govender, het aan die begin van die jaar hul eie klub, Rising Stars FC, gestig. “Ek wil my passie gebruik om geleentheide vir opwindende jong spelers te skep. Ek wil toesien dat ander die kans kry om hul familie ook uit die bendegeteisterde gebiede te neem. Ek wil ’n platform create waar spelers ordentlik develop kan word.”

En wie weet, dalk op een van die volgende Olimpiese Spele, sal daar ’n speler teenwoordig wees wat deur Kannemeyer se geesdrif aangemoedig is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters