2 maande gelede
Cass maak nog waves in surfing
Cass Collier  ~ Verskaf

SOWAT 22 jaar nadat Cassiem “Cass” Collier van Grassy Park en Ian Armstrong, sy spanmaat, 1999 se Reef ISA Big Wave World Championships in Todos Santos in Mexiko gewen het, het bitter min vir bruin én swart surfers verander.

In 2020 se Para Surfing World Championships in Kalifornië het net twee nie-wittes Suid-Afrika verteenwoordig. En die 48-jarige Collier voel die tyd het nou aangebreek vir iemand om op te staan en iets drasties aan dié situasie te doen.

Volgens Cass is daar genoeg talent in die land om diversiteit in dié nasionale span te bewerkstellig.

In 1999 het dit geblyk dat alles by die Big Wave Championships teen Collier en Armstrong getel het. Hulle was nie die tipiese blonde, blou-oog-surfers wat almal met branderplankry vereenselwig het nie. Hulle was skraal, onbekend en met hul dreadlocks het niemand gedink hulle staan ’n kans om enigsins in die spanafdeling te wen nie.

“Die feit dat ons onbekend was, het eintlik in ons guns getel. Niemand het gedink dat ons ’n bedreiging vir die ander inhou nie. Met ons dreads wat rondgeswaai het, het ons hulle verras. Dié twee unknowns van Afrika het hulle ’n ding gewys.

“Ek en Armstrong het egter geweet dat ons ná dié suksesverhaal in Mexiko, targets sou word.

“Ons het skokgolwe deur die surfing world laat trek. Waar het jy nou al gehoor dat twee Rastafarians uit donder Afrika met dié gesogte titel kon wegstap?

“Die feit dat ons nie net in die Kaap, maar oral in Suid-Afrika, hard moes veg om aan surfing deel te neem net omdat ons nie die regte velkleur was nie, het altyd ’n bitter smaak in my mond gelaat.

“Die dreads het mense nog verder teen ons laat draai en ons kon nie op enige strand in die land ons sportsoort beoefen nie.

“In die apartheidsjare het mense gedink dit is ’n sport vir die elite, maar ons het hard geveg om dié siening te laat verander. Daar is egter steeds mense wat só dink.”

Collier sê hy kon net by Nine Miles naby Strandfontein sy sport beoefen, terwyl die meer bevoorregtes enige plek langs die SA kus branders kon ry.

“My pa, Ahmed, het my by Nine Miles geleer swem en branderplankry.”

Swemmer

Volgens hom was sy pa destyds baie polities gesind, maar hy het voetjie vir voetjie die apartheidswette op die strande help afbreek. Hy beskou sy pa as die eerste swart surfer van internasionale gehalte in Suid-Afrika.

“Ongelukkig kon hy weens sy velkleur nie homself op die internasionale verhoog toets nie. Hy het egter hard geveg vir non-racial surfing in die land,” het hy oor sy pa gesê.

“Ek was ’n baie goeie swemmer en het onder die Sacos-vaandel deelgeneem. Toe ek egter besluit het om surfing ernstig op te neem, het ek gou aangepas en goed gevaar.

“Dis toe dat ek en Ian besluit het om aan die kampioenskapsbyeenkoms te gaan deelneem. Ander faktore wat ook teen my getel het, was dat geld en borge maar skaars was.

“My huishoudelike omstandighede in Suid-Afrika het ná my deelname baie internasionale blootstelling gekry. Ek het my egter geleidelik aan kompetisies begin onttrek toe ek eers sien hoe gevaarlik die golwe van 20 voet en meer is en hoe een foutjie jou jou lewe kon kos.

“In 2000 het ek in Tahiti gesien hoe een van my vriende op ’n brander sterf. Dit was ’n dag voor ’n kompetisie en ek het gedink alles sou afgelas word. Maar, soos hulle sê, the show must go on.

“Ek het toe besluit my lewe is meer werd en dat ek liewer my kennis in my eie gemeenskap wil terugploeg. Dit is hoekom ek ’n Surf Academy in Muizenberg het.

“Dis vir my baie bevredigend om almal te help om hul eerste tree op die branderplank te gee en die ekstase en geluk op hul gesigte te sien.”

As jy dus by Surfers Corner in Muizenberg kom en jy sien die surfer met die dreads omring deur oud en jonk, dan het jy by SA se eerste bruin wêreldkam­pioen in surfing uitgekom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters