5 maande gelede
Briljante Britton was een van heel bestes
Taureq Britton  ~ Adnaan Mohamed

TAUREQ Britton het nie net ’n reputasie opgebou as ’n besonderse rugbyspeler nie ...

Hy is altyd beskou as een van die fiksste spelers op die rugbyveld.

Dié veelsydige voorspeler se sterk punt was egter sy geestelike ingesteldheid. En dit is wat van hom so ’n voortref­like speler gemaak het.

Britton het in die Strand grootgeword. Hy beskou homself dus as ’n Boland-boytjie.

Gerald Hendricks, sy swaer, het St. George’s sowel as die Somerset Board destyds verteenwoordig.

Britton vertel: “Ons het in dieselfde huis gebly. Ek moes sy rugbystewels op ’n Saterdag polish. As familie het ons rugby saam gaan dophou. En dit is hoe ek my liefde vir die game aangekweek het.”

Hy het as ’n junior by St. George’s begin, waar hy heelagter en senter gespeel het omdat hy baie vinnig was. Daarna het hy Kaap toe getrek, waar hy sy skoollopbaan aan die Hoërskool Elsies­rivier voltooi het.

Hy het hom by die Behar Rugbklub aangesluit, waar hy twee jaar in die eerste span heelagter gespeel en ook pale toe geskop het.

’n Slot het ’n besering opgedoen. Die coach, mnr. Booysen, het besluit hy moet slot speel omdat hy die langste in die span was. Hy was uitstekend. En dit is waar sy loopbaan vlam gevat het.

Hy’t Tygerberg se B-span gehaal. Pieter Jooste was die kaptein van die A span.

Britton het daarna die Moslem-geloof aanvaar en sy naam van Richard na Taureq verander.

“Ek het ’n ou op die bus ontmoet. Sy naam was Haroun Canfield. Hy het my persoonlike trainer geraak. Hy het ’n groot rol gespeel in my loopbaan – veral my geestelike voorbereiding. Dit was een van my sterk punte.”

UITBLINKER: ’n Koerant-berig waarin Britton as die beste speler op die veld beskryf is.

Aan die einde van 1986 het Britton besluit om by die Westelike Provinsie aan te sluit. Die WP was destyds die suksesvolste en mees gevreesde van die Saru-spanne.

“Ek het by Young Stars aangesluit as ’n slot. Dieselfde jaar het ek die WP span gehaal. Ek onthou ek het ’n drie in my debuut gescore. Die game is by UWK gespeel. In dieselfde jaar (1987) het ek die Saru span gehaal. Ek was later ook ’n lid van die sterbelaaide span Violets.

“Dit was ’n geweldige eer vir my. Ek het vier jaar vir die WP en Saru gespeel. Ek was ook die onder-kaptein, met Allister Coetzee wat die kaptein was.”

Herinneringe

In 1990 het Britton by Hamiltons in Groenpunt aangesluit. Dit is toe hy die WP-span wat by Nuweland gesetel was, gehaal het.

“Dit was die eerste keer dat ek my voet op Nuweland gesit het.

“Ek het elke minuut as ’n rugbyspeler op die veld geniet. Ek het baie goeie herinneringe. My beste memory is waarskynlik die SA Cup final in 1987 toe ons Kwaru in die Dan Qeqe-stadion 3-0 geklop het.

“Ek het ook ’n paar internasionale games vir die ontwikkelingspan teen spanne soos Frankryk en Argentinië gespeel. Ek het ook die WP-sewesspan by die Melrose-sewes in Skotland verteenwoordig.”

TOPFIKS: Taureq Britton in die kleure van Hamiltons.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters