Verlede maand
Bell blits met bal
herinneringe: China Bell gesels by sy huis in Bethelsdorp oor sy glorieryke rugbydae. Foto: charles pullen  ~ 

HY WAS ’n baie swak doelwagter, maar hy was só goed met ’n rugbybal dat hy op een dag vir vier verskillende spanne gespeel en vir almal drieë gedruk het.

Dié blits is niemand anders nie as die legendariese Oos-Kaapse speler China Bell, wat selfs vir Ray Mordt, “The Unstoppable Bok”, in die Boet Erasmus (OPRU-sta­dion) ’n taai tyd gegee het.

Son het onlangs met Bell gaan gesels oor sy goeie ou dae. By sy huis in Bethelsdorp het hy vertel hy het destyds kaalvoet begin sokker speel.

“My sport het begin toe ons sokker gespeel het op skool in die o. 10-span.

“Ek was die kleinste en is vir een of ander rede as goalie gekies. Ná die eerste helfte was daar ses goals verby my, toe besluit ek ek loop van die veld en het nooit weer geworry met sokker nie,” het hy vertel.

Bell, wat ook vir die OP as atleet uitgeblink het, spog met ’n uitstekende tyd van 10,3 sekondes in die 100 m.

Hy vertel dit was een van die afrigters by, Wallabies RFC, sy klubspan, wat hom op die rugbyspoor gesit het.

Motivering

“Jacobus Jenneker was my eerste afrigter. Hy was eintlik baie underrated, veral onder ons gemeenskap.

“Daar is egter baie bekende spelers wat onder hom uitgekom het, soos Desmond Kramer en Anton Arends. Hy was ’n afrigter wat talent kon sien nog voordat ander dit kon sien.”

GEVAAR: Bell op die aanval vir OP, met Garth Wright (links) wat ondersteuning bied. Foto: Verskaf

Bell sê hy het baie van sy vroeë motivering van Jenneker gekry.

“Jenneker het in die oggende van Gelvandale werk toe na die Ford Neave-fabriek gehardloop. Van daar het hy gedraf tot by die oefensessie in die middag. Dan moes ons solank opgewarm gewees het vir hom.”

Jenneker se motivering het gehelp, want Bell het sy eerstespan-debuut vir Wallabies gemaak toe hy maar net 16 jaar oud was.

“Dit was Woensdagaande in die Section Cup, soos hulle dit genoem het. Ek het eers sakke gedra en gehelp en agterna begin speel.”

As jong speler, sê Bell, was sy rolmodelle Desmond Kramer en Desmond Booysen. Hy het gedroom om eendag saam met dié manne die veld te deel.

“My droom het toe in 1978 waarheid geword toe ek net 19 was. Toe was ek die jongste speler wat in ’n liga-eindstryd gespeel het.

“Dit was teen Glen Roses en dit was die eerste keer dat Wallabies die liga gewen het.”

In 1979 het Bell sy debuut vir die OP B-span gemaak en ’n jaar later het hy sy senior debuut vir OP gemaak.

“Ek het in die OP B-span ’n hele paar drieë gedruk en sodoende die oog begin vang. Daarna het ek vir een van die twee Desmonds ingestaan as een van hulle nie gebruik is nie, want ek kon linker- en regtervleuel speel.”

Bell is in 1981 tydens sy studies by die bewaarder-kollege West Lake gekies om vir Tygerberg (in die Wes-Kaap) te speel. Hy het egter nooit vir dié span gespeel nie, aangesien hy steeds vir OP uitgedraf het.

Genader

“Tygerberg het my gekies. Toe laat weet OP ek is ook gekies. Ek het toe vir OP uitgedraf en nogal die wendrie gedruk teen Tygerberg.

“Ek moet sê die weke ná daai wedstryd was dit maar swaar op kollege, want toe loop ek deur onder ál die afrigters.”

In 1983, vertel Bell, het die wet ingekom dat almal wat in staatsdepartemente werk, onder die Suid-Afrikaanse Rugbyraad moes speel en nie meer onder Saru Sacos nie.

“Doc Craven het my nog by ’n rugbykliniek by St. Albans genader en gesê ek moet Kaap toe kom om Federasie te speel.

“Ek het nog met hom gestry en gesê ek sal dit nooit doen nie, maar omdat ek ’n bewaarder was, moes ek toe Federasie speel.”

RUSTIG TUIS: Bell sny ’n stuk oor hoe baie drieë hy op een Saterdagmiddag vir vier verskillende spanne gedruk het. Foto: Charles Pullen

Bell vertel dít is een van sy groot teleurstellings in sy loopbaan, want hy’t weens dié wet uitgemis op sy Saru-kleure.

In daai jaar, vertel Bell, het hy ook die langste Saterdag van sy lewe beleef toe hy die dag vir die gevangenis se vyfde B-span teen Noordelikes gespeel het. “In die eerste helfte teen Noorde­likes het ek ses drieë gedruk.

“Toe ek van die veld loop, toe kom soek die Polisie-span my. Toe draf ek vir die tweede Polisie-span uit teen die Weermag se tweede span. Ek druk toe vinnig twee drieë en toe trek hulle my af, want ek moet vir Polisie se eerste reserwe-span gaan speel. Ek druk toe nóg ’n drie teen die Weermag se reserwes.

Australië

“Toe word ek onmiddellik afgetrek en na die A-span gestuur. Daar het ek ook twee drieë gaan druk.”

Bell, wat selfs vir ’n seisoen in Australië gaan rugby speel het, hou hom tans besig by die Hoërskool Sanctor, waar hy die voorsitter van die beheerliggaam is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters