4 maande gelede
Alexander bring iets van alles
Andre Alexander  ~ Verskaf

GEWOONLIK probeer sportlui om in hul een gekose sport te presteer – maar nie die legende Andre Antonio Alexander nie.

Dié 57-jarige word as “explosive en dynamite personified” beskryf. Hy is in die ware sin ’n legende wat in vier sportsoorte presteer het. Eers was dit as baan­atleet op skool en op klubvlak vir Spartans. Daarna het die goggas in sokker, baseball en as vrouesagtebalafrigter ook gebyt.

Outobiografie

Alexander het onlangs sy eie boek, Turning Point, oor sy loopbaan in sport geskryf.

Dit sal van 31 Maart te koop wees en word op dié dag by die Turfhall-stadion bekendgestel.

Waarom ’n outobiografie?

Alexander vertel die idee het twee jaar gelede (4 Augustus om presies te wees) by hom opgekom, toe hy op sy stoep in Oudtshoorn gesit en dink het oor alles wat hy in sport vermag het.

“Dit het my geïnspireer om die boek te skryf. Die idee het gekom van ’n opmerking deur die besoekende pastoor Femi van Nigerië.”

“Die pastoor het in 2008 in Suid-Afrika besoek kom aflê en tesame met Peter Ottache, (direkteur van Ambassadors Football) dié sport se internasionale leierskapskonferensie in die Kaap bygewoon.

“Die ontmoeting het my toe aangemoedig om die skryf van ’n boek aan te pak.

“Die tweede bevestiging was toe ’n vriend, die sokkerafrigter Preston Jongbloed saam met my deur my scrapbook gebrowse het.

“Ek het aan hom (Preston) gesê ek het ’n paar hoofstukke geskryf van wat ek Stepping Stones genoem het.

“Hy sê toe aan my: ‘Nee man, Andre. Dit moet getitel word Turning Point.’ ”

Medespelers

Alexander sê hy deel die “progress, prowess en accolades” van sy skoleatletiek-, sokker- en baseball-loopbaan en softball met sy vriende en medespelers wat saam of teen hom gespeel het.

“Dis hoe ek die ouens – altesaam 588 van hulle – wil vereer en onthou.”

Alexander is een van agt kinders (vier susters, Norma, Regina, Ursula en Sharon, en drie broers, David, Keith en Tony) wat in Crawford gebore is en daar grootgeword het.

Hy vertel sy pa, David, en ma, Regina (Jean), was albei groot bewonderaars van hul kinders se sportaktiwiteite.

Natuurlewe

Alexander het in 2018 na Oudtshoorn verhuis om ’n pos in die Wes-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur in dié streek op te neem.

Tans werk hy vir die Wes-Kaapse Sportakademie en rapporteer aan die Wes-Kaapse Sportkonfederasie, waar hy as bestuurder vir die Eden-distrik se sportakademie dien.

“Ek moet dit deel dat ek en my vrou, Mandy, rustig hier in die Suid-Kaap is. Die natuurlewe en die omgewing doen ons nogal goed en ek is opgewonde om die laities in verskeie sportsoorte af te rig en advies oor te dra aan atlete wat hulp vra.”

Alexander het sy sokker vir Blackheath se klub gespeel en as junior verskeie kere die WP in interprovinsiale toernooie verteenwordig.

Later het sy sokker vlamgevat en hy het op seniorvlak in die Cape District LFA vir die amateurklubs Wolves en Clare­wood uitgedraf.

Daarby was Alexander ’n gereelde keuse in die WP Board-span, waar hy saam met onder andere die bekende krieketspeler Vincent Barnes uitgedraf het. Ander groot name is Ronald “Hurry” Campher, Kevin Jaftha, Barry Thomas, Deon “Jan” Warely, Roger Links en Adeeb Abrahams.

Op die ouderdom van 17 het Alexander as ’n midfielder vir Santos beroepsokker begin speel.

’n Ernstige besering in 1993 in ’n wedstryd teen Jomo Cosmos het egter sy loopbaan beëindig.

Beëindig

“Ek het my kruisligamente geskeur en die kraakbeen in my regterknie gebreek. Dit was ’n hartseerstorie, maar ek moes tevrede wees dat hoewel ek nie meer sokker kon speel nie, daar ander goeie dinge in my sportloopbaan plaasgevind het,” vertel hy.

Baseball en softball was net so na aan sy hart. Hy het vir Athlone Athletics baseball gespeel en uiteindelik provinsiale én nasionale kleure verwerf.

SOKKERAKSIE: Alexander (middel) wys sy slag teen ’n Oostelike Provinsie-speler in ’n wedstryd vir die Westelike Provinsie in Vygieskraal-stadion in Rylands. Foto: Verskaf

Hy onthou nog in 1988 het sowat 2 800 toeskouers by die UWK-stadion opgedaag om die SA baseball-span teen ’n SA President-span in aksie te sien.

“Dit was ’n goeie SA span – Fergus O’Connor, Wendall Naidoo, Neil Adonis, Julian George, Deon Kerchhoff, Roger Links, Nolan Ellis en Clint Alfino, wat almal taamlik goeie, kranige spelers was wat saam met my in die ball park vir Suid-Afrika gespeel het.

Benewens dit, het Alexander die WP in talle SA toernooie verteenwoordig.

Hy het ook vir die klubs Silvertree en Devonshire Rovers in die Cape District Baseball Association gespeel.

In 2004 is hy as hoofafrigter van die Suid-Afrikaanse span aangestel vir ’n internasionale toernooi in Christchurch.

Genael

As ’n softball head coach het hy drie Kaapse vroueklubspanne in die Super­liga, naamlik Glendene A’s (2006-2008), Falcons (2013-2016) en Kenfac Phillies (2016-2018) afgerig. Hy het ook ’n hele paar trophies saam met dié onderskeie spanne gewen.

Hy het ook softball vir Hamiltons gespeel.

In atletiek het Alexander eens op ’n tyd die WP-rekord vir die 100 m (10,6 sek.) gehou. Hy het dié blitsige tyd in 1982 by die South African Schools Sports Association (Sassa) se Kampioenskapsbyeenkoms genael.

Hy het ook uitgeblink in die 200 m, wat hy in die Vygieskraal-stadion in 22,6 sek. gewen het.

Alexander sluit af: “Ek het hard gewerk in alles wat ek aangepak het. ‘Preparations meet opportunities’ is tot vandag toe my aangenome motto en ek lewe volgens dié filosofie.”

Belangstellendes kan Alexander se boek bestel deur hom gerus te kontak by 081 442 8388 of 044 279 2203.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters