4 maande gelede
Villa se Gaffie se toks blink nog
GEFOKUS: Gaffie du Toit in die klere van Villa.  ~ Foto Verskaf

’N BOLANDSE klubrugby-veteraan is nie seker of sy laaste wedstryd voor die staat van inperking sy laaste ooit was nie.

Die 40-jarige voormalige kaptein van Villagers Worcester, André “Gaffie” du Toit, sê hy vat dit op die oomblik dag vir dag: “Ek is nie seker wat ná die lockdown gaan gebeur nie. Daar is ’n kans dat ek sal speel, maar hoofsaaklik as ’n mentor en leier vir die jongelinge sal optree. Ek wil ook graag Tens speel vir die SuperBros, maar in dié stadium is ons almal onseker oor hoe die toekoms lyk.”

Hy het reeds in 1999 vir die eerste keer die Villa-trui oor sy kop getrek nadat hy Worcester toe is om onderwys te swot. Dié losvoorspeler van Grabouw het daarna baie provinsiale rugby gespeel vir spanne soos die Pumas­, Luiperds en die Boland-Kavaliers.

Du Toit het Villa gelei om in 2018 die Boland Groot Uitdaagbeker-kampioen te wees. Die laaste paar jaar was hy alomteenwoordig in pak voorspelers.

Leierskap

’n Besering aan die einde van ’n teleurstellende 2019-seisoen het Du Toit egter genoop om oor sy rugbytoekoms te besin.

“Ek het ’n liesbesering in ons top-12-wedstryd teen Hamlet opgedoen, maar moes egter op die veld bly om leierskap te toon. Ek het toe in die afseisoen na my lies laat kyk.

“Ek het een aand die oefening bygewoon net om die boys ’n bietjie aan te hits, maar het kort voor lank self ingeval.

“Ek was nie eintlik retired nie en moes toe weens ’n onttrekking tog teen die einste Hamlet op die bank sit in ’n Gold Cup qualifier. Ek het die laaste 25 minute gespeel en ons kon gelukkig die knoop deurhak.

“Ek gebruik maar die tyd tot my beskikking om in die jaart bodyweight-oefeninge te doen, shuttles te hardloop en sommer net besig te bly.”

Du Toit, ’n onderwyser by Klapmuts Primêr, sê hy help ook met opvoeding tydens die inperking.

“Ons is besig op rekenaarprogramme en gebruik ook Whats­App as middel om sodoende aan die leer te bly.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters