Verlede maand
Toelaag ‘voel soos klub se stem koop’
Stampvol: Klubs in die Westelike Provinsie maak sonder te veel moeite meer as R1 500 met hekgelde vir een tuiswedstryd. Foto: Gallo Images  ~ 

DIT gaan kwaai oortuiging neem om Westelike Provinsie-rugbyklubs te laat glo die aanbod van ’n Amerikaanse maatskappy om terug te ploeg in klubrugby gaan volhoubaar wees.

MVM Holdings, wat deur die Suid-Afrikaans-gebore Marco Masotti besit word, wil ’n 51%-aandeel in die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie se sakevleuel vir R100 miljoen koop.

Een van Masotti se planne is dat van dié geld in amateurrugby belê word, met klubs wat elke maand R1 500 sal ontvang.

Ebrahim Rasool, WP Rugby se nuwe voorsitter en voormalige SA ambassadeur na Amerika, sê die deal moet goed oorweeg word voordat ’n besluit gemaak word.

Son het met ’n paar geharde klubmanne gesels wat anoniem wil bly. Hulle meen hoewel die deal baie pluspunte het, is daar ook die gevaar dat die klubs weer aan die agterspeen moet suig.

“Kyk, ons verstaan dis ’n besigheid en dit word wel van hierdie oogpunt af benader, maar dit voel asof die bedrag (R1 500) aan die klubs belowe word in ruil vir ons om die deal te support,” het een topklub se bestuurslid aan Son gesê.

“Die klubs moet stem vir die deal, want dit word voor die general council gesit en hy (die council) weet die klubs sal kan doen met die bedrag, maar dis nou amper soos om ’n vote te koop.”

Om hierdie bedrag in perspektief te plaas, sal dit die klubs op die meeste R15 000 vir die jaar in die sak bring.

Die R1 500 per maand maak die meeste van die klubs in een tuiswedstryd, nog voordat die eerste spanne uitgedraf het.

“Ek dink die manne daar bo is uit voeling met klubrugby in die Kaap,” het ’n ander klub se bestuurslid gesê.

“Dáái bedrag maak klubs by ’n home game. Ja, elke klub sal kan doen met dit, want jy kyk nie ’n gegewe perd in die bek nie, maar daai R1 500 word in een wegwedstryd opgebruik.

Wortel

“Dan is jou travelling nie eens heeltemal gedek nie. En jy speel sewe away games vir die seisoen.”

Die toelaag sal baie klubs goed doen, maar die gevoel is dat dit nie gebruik moet word as ’n wortel om klubs in te trek om saam te stem met die deal nie. Die meer volhoubare manier sal wees om dit dalk as ’n once-off bedrag aan klubs te gee.

“Dalk as hulle dit vir ons aan die begin of selfs in die middel van die seisoen kan gee,” het een klubvoorsitter aan Son gesê, “Want dan kan daar met dit beplan word.

“Ons kan dan sodoende ’n groot gedeelte van ons wegwedstryde dek of selfs ons spelers wat mediese onkostes het weens beserings uithelp uit die bedrag.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters