Verlede maand
Terugploegproses goud werd

EEN van die uitstaan-kenmerke van rugbyklubs in die Boland, WP en SWD is dat oudspelers terugploeg in hul gemeenskappe deur self die leisels op bestuursvlak of as afrigters oor te neem.

Elkeen van die huidige bestuurslede of afrigters by dié klubs het hul gemeenskap in die verlede op die speelveld verteenwoordig en die deurlopende kommentaar oor hoekom hulle betrokke is, is om die jeug die keuse te gee om by iets positiefs betrokke te raak.

Wanneer buurdorpe in derbies teen mekaar speel, sit die fans die paviljoene vol en daarom word daar na klubs verwys as gemeenskapklubs, want die gemeenskap staan bankvas agter dié spanne.

Die coaches weet wat van spelers verwag word omdat hulle self pyn en lyding op die veld ervaar het. Dus is dit maklik vir spelers om vir hul mentors vrae te vra.

Die voordeel wat die jong breiers en bestuurslede het, is dat die ouer garde steeds beskikbaar is as hulle dalk hulp en leiding benodig.

Verskil

Klubs wat met bekende oudspelers – sommige selfs Springbokke – as afrigters spog, sluit in Hamlets in Mamre, waar Gavin Passens tans die leisels vashou.

Wayne Julies is by Blakes in Stellenbosch en MacNeil Hendricks by Wesbank.

Voormalige provinsiale rugbyspelers wat ook in hul gemeenskappe terugploeg, sluit in David Hendricks (Wesbank), Desmond Houston (Van der Stel-Evergreens), Riaan Pietersen (Whistling Wheels), Ernest Lodewyk en Gershwin Leyds (Strand), Ronald Adendorf (Blakes), Raymond van Niekerk (Albions), Irven October (Belhar en Helderberg), Henley du Plessis (Robertson), Bertram Vraagom (Saldanha), Pat Marang (De Doorns), Denzil Domoney (Roses United) en Isma-eel Dollie en Adrian Jacobs (Unie-Milnerton).

Ál die breiers en bestuurs­lede wil ’n verskil maak in jong mense se lewens en hulle glo rugby is die regte pad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters