9 dae gelede
Strandfontein-rugbyklub is terug
Eddie Bedja  ~ Foto Verskaf

NIE eens die nasionale lockdown of onsekerheid oor klubsport in die land kon keer dat die rugbyklub Strandfontein verlede jaar weer as klub registreer nie.

En dít ná ’n afwesigheid van meer as drie dekades.

Die klub het verlede jaar sy algemene jaarvergadering gehou.

Strandfontein het sy eerste amptelike opwarmingstryd dié naweek in Muizenberg teen Peninsula gespeel.

Eddie Bedja, die president, en sy uitvoerende bestuur het hard gewerk om seker te maak twee spanne word geregistreer en word gereed gekry vir wedstryde.

“As bestuur is ons baie bly oor die wedstryde teen Peninsula. Ons het albei wedstryde verloor, maar dit is van akademiese belang.

“Dit het beslis nie ons gees geblus nie,” het Bedja aan Son vertel.

Kassier

“Ek moet eers die afrigters, Moegamat Karriem, Igshaan Carstens en ál die ander bedank.

“Die bestuur doen ook baie goeie werk onder leiding van Baronise Henry, een van klubrugby se min vrouevoorsitters.

“Ook Charles Wyngaard (sekretaris), Noeleen Burger (kassier) en die addisionele bestuurslede, Marlon Petersen, Daniel Nieuwenhuyzen en Eugene Petersen, doen reuse-werk.”

Soos met die meeste gemeenskapsklubs is die poging om spelers te werf en dan die instandhoudings- onkoste van fasiliteite, altyd die grootste uitdaging.

“Ons tuisveld, die Strandfontein-sportgronde wat verlede jaar gebruik is om haweloses te huisves, moet nog reggemaak word,” het Bedja gesê.

“Daar moet gewerk word aan die speelvlak en kleedkamers. Al ons spelers werf ons in die sosiale media en dan maak ons gebruik van gemeenskapsradio en ander plaaslike koerante.”

Geseënd

Bedja en kie werk baie hard om die sport genotvol te maak vir ál die spelers en amptenare.

“Ons is baie geseënd as dit kom by die support wat ons die afgelope jaar ontvang het. Aan die begin van Junie was ons lid van die Millennium Fundraising Group, wat fondse ingesamel het vir alle community-based clubs.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters