4 maande gelede
Standards vier hele 120 jaar
Yusuf
Henties Eksteen (links) saam met die ontslape Yusuf Mentoor.  ~ Verskaf

BREDASDORP se Standards vier vanjaar sy 120ste bestaansjaar, maar die feesvieringe moes weens die lockdown vir eers op ys geplaas word.

Henties Eksteen is die voorsitter van dié roemryke rugbyklub in die Overberg-streek en dien reeds sedert 1997 in hierdie posisie. Daar is groot makietie en feesna­weke vir Bredasdorp beplan, maar Covid-19 het ’n stokkie voor alles gesteek.

“Ons het darem één van die reeks events gehou wat ons vir die 120ste verjaardag-celebrations beplan het,” het Eksteen gesê.

“Daar is net soveel wat ons kon doen en ons het gehoop dat ons dalk nóg ’n rugbytoernooi kon hou, maar dit was ongelukkig nie moontlik nie.”

Standards het beplan om Young Standards van die Paarl te nooi om in die vieringe te deel. Dit sou rugby en ander sportsoorte soos netbal en skolerugby insluit. Maar dié planne moet nou vir eers tot 2021 oorstaan.

“Die klub beplan nou om volgende jaar ons legendes te vereer en die oudspelers by die klub te betrek om dalk ’n paar wedstryde te speel. Ons hoop net dat die manne nie so ver uitmekaar beweeg het dat ons nie almal in die hande kan kry nie.”

Standards is die oudste klub in die Overberg-streek en het ’n ryk geskiedenis. Die klub het een van sy bestuurslede, Yusuf Mentoor, tydens die lockdown aan die dood verloor.

Mentoor was die klub se kassier by tye van sy sterfte.

“Ek en Yusuf het baie goed saamgewerk, soveel so dat ons selfs tydens die lockdown deur een van sy kontakte ’n borg vir ’n nuwe stel truie en broekies bekom het,” het ’n bedroefde Eksteen vertel.

“Die rooi broekie sou hulde aan ons 120ste bestaansjaar bring en sou ook die borg se logo op hê. By sy heengaan moet ons maar kyk of die borg steeds Standards wil borg, aangesien Mentoor die een is wat die connection gemaak het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters