Verlede maand
Speel ‘sal meer skade aanrig’
Isma-eel Dollie  ~ Gallo Images

KLUBRUGBY kan nou maar die 2020-seisoen afskryf.

SA Rugby het weer verlede week ’n verklaring uitgereik om amateurrugby, wat skole- en klubrugby insluit, te herinner dat geen wedstryde of toernooie van enige aard gereël of gespeel mag word nie. Nie eens friendlies nie.

Dít volg op die tragiese sterfte van ’n klubspeler in die Grens-unie tydens ’n toernooi wat so ’n paar weke terug onwettig plaasgevind het.

SA Rugby het wel in ’n aparte verklaring gesê oefening word toegelaat op amateurvlak, maar dit moet alles binne die Covid-19-reëls en -regulasies plaasvind.

Klubspelers en -afrigters brand egter om terug op die veld te kom, maar daar is afrigters wat mooi daaroor besin het en voel dit gaan meer skade as goed doen.

Een so ’n afrigter is die Westelike Provinsie Super­liga A-klub Unie-Milnerton se hoofafrigter, Isma-eel Dollie.

Dollie, wat ook by MyPlayers werksaam is, is in ’n besonderse posisie om kommentaar hierop te kan lewer.

Goed

Hy is al 10 jaar die hoofafrigter van ’n groot klub en is gereeld werksaam met professionele spelers.

“Dit sal baie goed wees vir ons om weer op die veld te kom,” sê Dollie.

“Die spelers en afrigters brand om terug te keer, maar ek dink dit sal meer skade aanrig, nie net aan die spelers se welstand nie, maar finan­sieel gaan baie klubs dit nie kan bekostig nie.

“Klubs is afhanklik van hekgelde wat hulle by tuiswedstryde invorder. En as klubrugby nou terugkeer, gaan dit waarskynlik nie voor skares wees nie. So, nou verloor klubs daai inkomste.”

Winston Baard, direkteur van rugby by Sir Lowrians, sê klubs moet kreatief dink om die manne tight te hou.

Baard, een van die mees ervare afrigters in klubgeledere, beskou die lockdown as ’n ideale tyd om dinge anders aan te pak.

“Ons het ’n paar idees wat ons gaan implementeer om die manne tight te hou.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters