8 maande gelede
Rugbyklub reik na gemeenskap uit
PASSIEVOL:Calvin Warnick, die voorsitter van die A
PASSIEVOL: Calvin Warnick, die voorsitter van die Atlantis-rugbyklub.  ~ Foto Veskaf

ARMOEDE en die hoë werkloosheidsyfer in Atlantis is die grootste beweegredes waarom die Atlantis-rugbyklub hom in 2008 as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer het.

Die klub wil ’n verskil in die gemeenskap en die inwoners se lewe maak.

“Ons is die enigste rugbyklub in Atlantis en daarom het ons Saterdag 14 November sowat 200 mense in die gemeenskap deur ons uitreikprogram gevoed.

“Ons het voor die Covid-19- pandemie talle programme beplan, maar kon die afgelope agt maande niks doen nie. Ons uitreik Saterdag was die eerste in die tyd van die pandemie,” vertel Calvin Warnick, voorsitter van die klub.

Die Atlantis-rugbyklub is in Maart 1977 gestig en het onder die vaandel van die destydse WP-Platteland gespeel, maar het hom ná eenwording by die WP Rugbyunie aangesluit.

Die klub speel in die Suide­like Liga, die liga onder Superliga C. Spanne in dié liga sluit in Morning Star in Durbanville, Polisie, Young Hearts van Pella en Darling Tigers.

Terugploeg

Voor Covid-19 het Atlantis voorseisoense wedstryde teen hulle gespeel en twee uit die vier wedstryde gewen.

Hulle het baie geleer uit die wedstryd teen Young Hearts en die klub het daarna uitgesien om op dié wedstryde in die liga te verbeter, maar geen rugby is vir 2020 gespeel nie.

“Die afrigters en bestuur bestaan uit oud-spelers. Ons wil terugploeg in ons gemeenskap en ’n verskil in die jeug se lewe maak.

“Ons glo om suksesvol in rugby te wees, moet jy ’n liefde en passie vir die spel hê, want niemand is groter as die spel nie. Ons is dankbaar vir ons voorgangers wat onder moei­like omstandighede die klub gelei het,” sê hy.

Die klub het in 1995 die Noordelike Liga en in 2001 en 2012 die Suidelike Liga gewen. In 2017 was Atlantis die naaswenner in die Suidelike Liga.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters