6 maande gelede
Progress is honger
LAAT WAAI! Progress se skrumskakel in aksie.  ~ Charles Pullen

PROGRESS gaan Swallows vandag in sy veldtog om die Oos-Kaapse Super14-titel jag.

Die Uitenhaagse span gaan vandag in Mdantsane se NU1 Stadium teen Swallows probeer om nóg ’n titel vir sy trofeekas te verower.

Vasval

Snaaks genoeg is albei spanne onoorwonne in die kompetisie. Hulle het van die begin af uitstekende rugby gespeel en dis geen wonder om dié twee sake in die eindstryd te sien uitspook nie.

Progress se breier, Eric Toring, sê ongelukkig moet een van die spanne vasval.

“Dit gaan nie óns wees nie. Ons het ’n goeie week se voorbereiding gehad en weet presies wat Swallows as span bied.

“Hulle is ’n goed gebalanseerde span met ’n paar provinsiale spelers, maar ons is slaggereed vir hulle,” wei Toring uit.

Swallows was verlede jaar se Gold Cup champ terwyl Progress op sy beurt die OP se Superliga-titel gewen het.

Progress het ook sover die meeste punte en drieë in dié kompetisie aangeteken.

Toring meen: “Dit help nie jy is onoorwonne, maar het nie ’n titel of iets nie.

“Daarom maak dit nie saak waar ons speel nie, ons moet wen.

“Dit is nou hartseer om nie voor jou tuisskare te speel nie, maar dit is hoe dinge werk.

“Hulle is nie nou gelukkig nie, maar hulle sal gelukkig wees as ons die trofee kan terugbring.”

Daar is natuurlik meer as net bragging rights en ’n titel op die spel. Die wenner van die Super14-titel kry natuurlik die vuurwarm eerste prys van R60 000.

Die naaswenner hoef ook nie skaam te wees met R40 000 nie.

“Ons doel was nog altyd om te wen, maak nie saak in watter kompetisie ons meeding nie. Die geldprys is ook natuurlik ’n aansporing.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters