3 maande gelede
Planne gereed vir liga-afskop
PUNTEMAKER: Sir Lowrians se Tervin Britz (agter) is te laat om Tygerberg se Enver Brandt se drie te verhoed in 2016 se Superliga-wedstryd.  ~ Jonathan Lestrade

OFSKOON rugbyklubs in die Westelike Provinsie al vir ’n paar weke besig is met vriendskaplike wedstryde, skop dié liga-seisoen amptelik oor bietjie meer as ’n maand af.

Faizel Felton, bestuurder van klubrugby in die Westelike Provinsie, het gister aan Son gesê daar word beplan om liga-kompetisies amptelik op 5 Junie te begin.

Geen toeskouers sal ingevolge die huidige Covid-19-regulasies vir sport op amateurvlak by wedstryde toegelaat word nie.

Dít sal hartseer-nuus vir ondersteuners en lede van verskeie klubs wees, want ’n groot meerderheid van hulle is afhanklik van hekgelde om rugby in hul gemeenskappe aan te bied.

Hartseer

Volgens Felton sal daar egter van die WP Rugbyunie se kant af ondersteuning aan klubs gebied word, veral as dit kom by spanne wat in wegwedstryde moet speel en sukkel met die onkoste vir vervoer.

Om reisonkostes en die impak van Covid-19 te beperk, is daar ook besluit om die liga-kompetisies vanjaar anders aan te bied.

Superliga-spanne se eerste span, tweede span en o. 20’s is die enigste spanne wat toegelaat word om te speel, terwyl spanne in die streekligas se eerste en tweede span die enigstes is wat sal speel.

Die Superliga-kompetisies (A, B en C) sal ook in twee groepe verdeel word, met die topspanne uit elke groep wat dan vir die uitspeelrondes sal kwalifiseer.

Daar sal ook ’n premie geplaas word op die strewe om veiligheid by wedstryde te verseker en om verdere besmetting te bekamp.

Klubs se spanne wat klaar by wedstryde betrokke was, sal direk daarna die sta­dion/sportterrein moet verlaat.

Volgens Felton is WP Rugbyunie tot dusver baie gelukkig met hoe die klubs gehoor gee aan Covid-19-regulasies en hy is vol vertroue dat alle klubs teen die afskop van die seisoen sal kan speel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters