Verlede maand
Pekeur maan klubs oor rugby speel
GEEN AKSIE: Die Groot-Brakrivier-sportstadion staan nou al vir meer as agt maande leeg.  ~ Mark Ward

SELFS al is die land nou afgebring tot op vlak 1 weens die Covid-19-pandemie, sal klubrugby nie in die Boland-streek of die Westelike Provinsie hervat word nie.

Ivan Pekeur, president van die Boland Rugbyunie, het gewaarsku daar sal streng opgetree word indien enige klubs hulle daaraan sou skuldig maak om tot die speelveld terug te keer.

Volgens Pekeur volg die unie die streng maatreëls wat vroeër deur SA Rugby aan alle unies uitgereik is.

Dié nasionale liggaam het alle klubrugby-kompetisies tot 2021 uitgestel.

“Geen amateurrugby sal gespeel word nie. Net beroepsrugby wat deur SA Rugby goedgekeur is, mag gespeel word,” het Pekeur benadruk.

In ’n omsendbrief aan alle klubs waarsku Pekeur as klubs die maatreëls oortree, sal daar streng opgetree word.

Daarvolgens sal geen vriendskaplike wedstryde of sewesrugbytoernooie toegelaat word nie. Geen oefenkampe mag ook aangebied word nie.

Vermy

Pekeur sê klubs moet die tyd wat hulle nie aktief aan rugby kan deelneem nie, gebruik om hul klubs administratief op te skerp.

Danny Jones, die Westelike Provinsie se hoof van amateurrugby, het onlangs ’n soortgelyke waarskuwing aan klubs, spelers, skole en rugbyondersteuners gerig.

Volgens Jones rus die verantwoordelikheid op alle inwoners wat ook rugbyspelers is, om ’n tweede wave van die Covid-pandemie te vermy. Hy vra ook vir geduld en dat spelers hulle by die vlak 1-maatreëls moet hou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters