5 maande gelede
Pandemie pootjie klubrugby
lundi msenge FOTO verskaf  ~ 

DIE jaar 2020 was veronderstel om ’n massiewe geskiedkundige een vir klubrugby regoor die land te wees.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het groot planne gehad om rugby op amateurvlak sy eie jaarlikse uitkloptoernooi, geskoei op die formaat van Engelse sokker se FA Cup, te gee.

Uitklopwedstryde vir dié toernooi het spoedig in Februarie en Maart in die Boland, Oos-Kaap en ander dele van die land begin – voordat Covid-19 kop uitgesteek en alle sport tot stilstand gebring het.

Die enigste klubrugby waarop liefhebbers hulle kon trakteer, was bekende sewesrugbytoernooie en dan ook die Oos-Kaapse Super 14, waar Progress van Uitenhage uiteindelik die apie van sy rug kon kry deur dié titel te wen.

Pandemie

Die Uitenhagers se sukses en die feit dat hulle die Ooste­like Provinsie se Grand Challenge-kampioen vir 2019 was, het tot ’n uitnodiging na Saldanha-rugbyklub se bekende Paasnaweek-toernooi gelei.

Dit sou ook die eerste keer wees dat ’n span uit die Oos-Kaap aan dié toernooi deelneem.

Ongelukkig was dié toernooi een van die eerstes om voor die pandemie te swig. Sodoende is talentsoekers ook beroof van ’n geleentheid om opkomende sterre raak te sien.

Kontrakteer

Gepraat van opkomende sterre – op Varsity Cup-vlak het die Universiteit van Wes-Kaapland se nuwe vleuelvonds, Lundi Msenge, hom aan die plaaslike rugbyliefhebbers en die wêreld bekendgestel deur twee pragdrieë in ’n opwindende Kaapse derby teen die Universiteit van Kaapstad te druk.

Met sy vaart en oog vir ’n gaping sal daar beslis groot belangstelling van unies wees om dié jongeling in 2021 te kontrakteer.

Dit kon dalk ook al hierdie jaar vir hom gebeur het as dié boorling van Swellendam nie sy kakebeen gekraak het en sodoende sy eerste seisoen met Udubs kortgeknip het nie.

St. George’s van die Strand het op sy beurt vir ’n groot opskudding in Malmesbury gesorg deur die Wesbank-rugbyklub se bekende sewestoernooi te wen.

Tygerberg kan ook daarmee spog dat hy vir dié jaar ’n titel kon wen toe die span van Ravensmead die Hamediehs-klub se Community 10’s in Athlone gewen het.

Gesetel

Daar is geen waarborg dat klubrugby gou enige terugkeer gaan maak terwyl die land in die greep van ’n tweede vlaag infeksies is nie.

Al kan daar nou nie klubrugby gespeel word nie, het klubs regoor die land, veral in die Wes-Kaap, gewys waarom hulle meer as net sportklubs is.

Hulle maak ook ’n verskil in die gemeenskappe waarin hulle gesetel is.

Spelers wat gewoonlik hul spiere vir mekaar op die speelveld bult, het saamgekom om kos en noodsaaklikhede aan minderbevoorregtes te verskaf.

Hopelik sal ál die harde werk weg van die speelveld in 2021 tot ’n spoedige terugkeer na die aksie lei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters