JONATHAN Mokuena glo daar moet voortaan meer vroueskeidsregters in rugby wees.
Dit kom nadat Aimee Barrett-Theron Saterdag geskiedenis gemaak het deur die eerste vrou te word wat in Suid-Afrika as skeidsregter in beheer was van ’n Superrugby-wedstryd.
Dié 33-jarige boorling van Kaapstad was die ref in die Superrugby Unlocked-kragmeting tussen die Bulls en die Poemas op Loftus Versfeld in Pretoria.
Die Bulls het die game met 21-5 gewen en is ook agterna as die plaaslike Superrugby-kampioen gekroon.
Koel
Mokuena was net een van talle rugbykenners wat Barrett-Theron geloof het vir die manier waarop sy die wedstryd hanteer het.
Mokuena, ’n voormalige kaptein van die Blitsbokke wat deesdae as rugbyafrigter en rugby-analis by SuperSport werk, het gister oor Theron se vertoning gesê: “Aimee was baie indrukwekkend as ref van haar eerste game op Superrugby-vlak.
“Sy het nie net die game goed beheer nie, maar sy was baie koel en kalm.
“Haar kommunikasie met die spelers was baie duidelik. Ek dink ons moet voortaan meer vroue-refs kry.”
Barrett-Theron het as ref op klubvlak begin en het tot dusver net as assistent op Superrugby-vlak gedien.
Verstom
Sy het agterna getwiet: “Dit was absoluut ongelooflik daar buite om my eerste Superrugby game te ref! Dankie vir al die wonderlike boodskappe en oproepe. Die ondersteuning verstom my.”