5 maande gelede
Lockdown sal bepaal
Zelt Marais  ~ Gallo Images

DAAR is hoop vir die WP se rugbyklubs as die nasionale lockdown vir die bekamping van die corona-virus sy einde op 16 April sien.

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se president, Zelt Marais, het aan Son bevestig dat klubrugby sal afskop as die lockdown nie verleng word nie.

Klubrugby sou Saterdag afgeskop het met sowat 100 klubs in aksie.

Afgelas

Die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, verbied egter alle groot events plaaslik.

Die meeste internasionale sportgeleenthede en kompetisies is ook afgelas.

Marais en kie vergader gereeld via Zoom en Skype en kommunikeer gedurig via WhatsApp. Dié kommunikasie is tussen WPRU-raadslede, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en bestuurslede van klubs.

Marais sê: “Ons gehoorsaam Wêreldrugby en Saru, met wie ons gereeld in verbinding is.

“Ons moet baie uitdagings oorbrug, maar ek het volle vertroue in hoe ons dinge hanteer, dat dit altyd deursigtig moet wees.”

Die WPRU en elke klub wag in spanning om te hoor of dinge ná 16 April na normaal sal terugkeer.

Die WPRU se uitvoerende bestuur beplan egter selfs dié wagperiode deeglik en werk alles haarfyn uit.

Marais is huiwerig optimisties dat rugby wel nog dié seisoen gespeel sal word, maar hy benadruk dat veiligheid die hoogste prioriteit is.

Hy sê: “Daar is planne vir ’n paar scenario’s, maar ons moet ons lede se veiligheid en gesondheid in ag neem.

“Die exco weet hoe belangrik ons beplanning is en ons besef hoe belangrik ons posisie is en hoe besluite ons lede se seisoen beïnvloed.

“As die inperking op 16 April eindig, is ons reg om al die wedstryde binne weke te laat begin. Hopelik sal alle bepalings in elke liga vir dié seisoen plaasvind.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters