3 maande gelede
Lede wil ‘nóú’ heraangestel word
Bennie van Rooi  ~ Verskaf

TERWYL die Boland-Rugbyunie vir ’n moontlike presidentsverkiesing voorberei, dreig afgedankte verkose en gekoöpteerde bestuurslede met regsaksie as hulle nie heraangestel word nie.

Die ontstoke lede, Klaas Cloete, Brian Siebritz, Pat Marran, Charles Beukes, Wilfred Herman, C. Pietersen, Melvin Davids, John Adams, F. Shoto en Stephen Jones vra in ’n prokureursbrief vir hul aanstelling sonder versuim.

Die groep sê hulle is wettig verkose en gekoöpteerde lede van die uitvoerende komitee en hul termyn strek tot die voorgestelde algemene jaarvergadering op 29 Mei.

Gesteek

Hulle sê ook alle besluite wat sonder hul insae deur die waarnemende president, Bennie van Rooi, geneem word, is teenstrydig met die Boland-grondwet.

Die lede is in die pad gesteek omdat hul termyn glo aan die einde van Februarie verstryk het. Dis net Cloete, wat ook in die ontstoke groep is, wat kon aanbly omdat hy die meeste stemme as bestuurslid by die laaste verkiesing ontvang het.

Intussen het Van Rooi ’n besluit om nuwe lede aan te stel, bekragtig en word daar voortgegaan om die klubs te vra om by die vergadering op 29 Mei ’n besluit te neem om hom toe te laat om tot volgende jaar waar te neem.

Van Rooi sê daar moet kragtens die grondwet opgetree word, aangesien hy in die pos kan waarneem om sodoende wyle Ivan Pekeur se termyn te kan voltooi.

Pekeur is in Desember 2020 oorlede.

Indien die vergadering op 29 Mei sou voortgaan, word die klub gevra om te stem dat Van Rooi moet aanbly.

Indien die mosie misluk, sal daar ’n verkiesing plaasvind waarin ses kandidate, Van Rooi, Cloete (Adelaars), Willie Small (Young Blues), John Bader (Moorreesburg), AK Warnick (Young Tigers Darling) en Bertram Vraag­om (Saldanha) sal meeding om die pos as president.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters