6 maande gelede
Kyk dié rising star
Sihle Mendile  ~ Foto Verskaf

’N OPWINDENDE jong speler van Trying Stars is eerder ’n rising star.

Die belowende 19-jarige agterlynspeler Sihle Mendile droom om een van Stars se beste rugbyspelers te word.

Mendile speel reeds twee jaar vir Stars se eerste span en vaar ongelooflik goed.

Hierdie sterk buitesenter het in daardie tydperk groot naam gemaak en die nr. 13-trui sy eie gemaak.

Die tiener het net laas jaar skool klaargemaak aan die Hoërskool Alexandria en het ’n blink toekoms voor hom.

Hy was nie net die skool se beste speler nie, hy was ook ’n staatmaker vir Stars in die Superliga.

Die knaap het ook laas jaar OP-o. 19-Curriebeker gespeel en goed vertoon.

Hy is ’n baie sterk en vaardige senter wat die lyn maklik kan breek.

Mendile onthou ’n stryd laas jaar teen Progress toe hy in die tweede helfte van die bank aangewend is. Dit was een van sy beste games teen die Oos-Kaap se topspan. Hy het op 10 Augustus teen Star of Hope op Alexandria een van sy beste games gehad waar hy vanuit sy eie kwartgebied dwarsdeur sy teenstanders gehardloop het om ’n pragdrie te gaan druk.

Houding

Mendile se rolmodel is die Wêreldbeker-wenner en Shark-senter Lukhanyo Am.

Die speler se droom is om eendag vir die Bokke te speel. Hy besef dit verg harde werk en oefen dus hard elke dag.

Die Stars-breier, Sheldrid Cannon, meen Mendile is ’n uitstekende jong talent wat dit nog baie ver kan bring.

“Hy het ’n goeie houding en werk baie hard,” het Cannon gesê. “Hy is baie goed met ball in hand, step goed van albei voete, is sterk in die tackle en neem goeie besluite. Hy is ook baie maklik om af te rig en nederig.”

Mendile het sy debuut in die eerste span gemaak toe hy net 17 jaar oud was.

Hy wil ook graag dié seisoen ’n groot bydrae vir Stars en die OP-o. 20-span lewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters