12 dae gelede
Klubrugbywedstryde goed op pad terug
Lopie: Whistling Wheels se Bradley October fnuik Gordon’s Bay Pioneers se spelers.  ~ Runitia Diedericks

DIE gemoedere loop hoog met klubrugby wat weer in volle vaart is.

Met die liga wat oor minder as ’n maand afskop, was amper elke Westelike Provinsie-klub hierdie naweek in aksie. Klubs moet nou hul spelers fiks kry ná meer as ’n jaar sonder enige game time.

Belhar het Strand verwelkom, terwyl Whistling Wheels die nuwe klub Gordon’s Bay Pioneers tuis gepak het.

Germaine Brinkhuis (hoofafrigter van Strand) se manne het ’n sege van 29-19 oor Belhar behaal. Ondanks die sege sê Brinkhuis dis nie die uitslag waaroor hy die blyste is nie.

“Ons is ’n bietjie verroes, maar dit was ’n tough wedstryd,” het Brinkhuis gesê. “Al het dit gelyk asof ons kondi­sionering effe beter was, is ek bly ons kon weer game time onder die knie kry. Belhar is ’n sterk en trotse klub en ons kon sien dat hulle nes ons met verskillende kombinasies probeer eksperimenteer.”

Gordon’s Bay Pioneers se hoof van rugby, Johan van Eeden, was baie optimisties, al was sy span aan die verloorkant.

“Dis moeilik sonder toeskouers,” het Van Eeden aan Son gesê.

Aanpassing

“Die game was taai en lekker hard. Die score in friendlies is nie vir ons so belangrik nie. Dis die verbetering elke week wat tel.

“Ek is vol vertroue ons sal 100% reg wees in die liga.”

Wheels se Ashwell Diedericks meen die aanpassing onder die nuwe reëls is iets om aan gewoond te raak.

“Dis ’n groot aanpassing, veral met ál die papierwerk voor ’n spel,” het Diedericks vertel.

“Dis baie administrasie, maar dis vir die veiligheid van elke speler, afrigter en bestuurslid.

“Dis swaar om sonder die supporters te speel, want hulle is die mense wat die klub maak en ons mis hulle.”

Die algemene gevoel onder alle klubs is dat hulle bly is om terug te wees, al is dit onder eienaardige omstandighede.

Diedericks beaam hierdie sentiment. “Maar ál wat ek kan sê, is die manne het die rugby gemis en dit voel lekker om weer op die veld te wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters