6 maande gelede
Klubrugby is gestaak
SNY 'N LYN: Brendon Collins is haastig op pad doellyn toe vir Hands & Heart teen Blue Jets van Khayelitsha.  ~ Melinda Stuurman

KLUBRUGBY in die Westelike en Oostelike Provinsie is gister ook weens die corona-virus uitgestel.

Dié provinsies se amptelike klubrugbykompetisies sou volgende week begin het. Die Suidwestelike Distrikte se ligas het twee weke gelede begin en die ampte­like afskop van die Bolandse ligas­ moes hierdie naweek plaasgevind het.

Dit is nog onbekend of dié unies ook reeds hulle kompetisies uitgestel het.

Zelt Marais, president van WP Rugby, het in ’n brief aan klubs gesê klubrugby word tot 14 April uitgestel.

Om die verspreiding van Covid-19 te beperk, het pres. Cyril Ramaphosa Sondag reeds aangekondig byeenkomste waar meer as 100 mense gaan wees, moet uitgestel word. Klubs bestaan gewoonlik uit drie tot vier spanne – ’n eerste, tweede, derde en o. 20-span.

Werner Wippenaar berig uit Port Elizabeth OP Rugby gaan ook klubaktiwiteite staak.

Skolerugbywedstryde en oefeninge is ook tot 14 April uitgestel.

Die Super 8-Paastoernooi in Saldanha sal nou ook nie meer van 9 tot 13 April plaasvind nie.

Opgehef

Die organiseerders het gister in ’n verklaring gesê hulle sal moet kyk of dié toernooi dalk later in die jaar kan plaasvind.

Dit hang af van wanneer die verbod op byeenkomste van meer as 100 mense opgehef word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters