22 dae gelede
Help met ’n droom
GROOT DROME: Talynne Louw en Louis Faro wys waar Wittewater se sportterrein gaan wees.  ~ Verskaf

DIE beskikbaarheid en toeganklikheid van sportfasiliteite speel ’n baie belangrike en betekenisvolle rol in gemeenskappe.

Dis veral die geval in gemeenskappe aan die buitewyke van die groot dorpe en stede waar sportsoorte soos klubrugby en atletiek gewild is.

Dié klein dorpies het daai uncanny ability om vir van die beste sporttalent te sorg.

Daarom is daar in die Bolandse dorp Wittewater ’n aksieplan ingestel om te verseker dat talent hier ontgin word.

Wittewater het nie sy eie sportterrein nie. Die dorp se rugbyklub, Villagers Wittewater, moet al sy wedstryde weg van die huis speel.

Leerders van die plaaslike laerskool moet na omliggende plase reis om atletiek te beoefen.

Krieketspelers moet maar van ’n stuk grond langs die dorp se bus-en- taxi-staanplek hul Nuweland maak.

Maar onder die leiding van Talynne Louw, voorsitter van die plaaslike sportraad, en haar adjunk, Louis Faro, is dinge besig om te verander.

’n Projek vir ’n sportterrein is in 2017 met behulp van borge en ’n bydrae van die Bergrivier-munisipaliteit begin en is naby aan voltooiing.

“Ons het ’n doelwit wat ons wil bereik. Dis om al volgende jaar wedstryde op ons tuisveld te kan speel en ook atletiek aan te bied. Ek droom om te sien dat ’n kind van ons dorp, soos Breyton Paulse destyds, uit die skadu van die Koue Bokkeveld tot op die wêreldverhoog sy merk kan maak.”

Betrokke

Ray van Rooy, burgemeester, sê hy is trots op die gemeenskap se poging.

“Soos almal verstaan, is die Morawiese Kerk die eienaar van die grond. Ons kan geensins direk betrokke raak nie. Ek het byvoorbeeld uit my Burgemeestersfonds ’n nuwe pomp gekoop om die terrein te besproei.”

Louw en Faro is vasbeslote om fase drie te begin – die bou van ’n klubhuis en paviljoen. Hiervoor benodig hulle egter nog hulp.

  • Vir bydraes tot Wittewater se droom, bel Louw by 073 010 4262 of besoek backabuddy.co.za/talynne-louw vir aanlyn donasies.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters