6 maande gelede
Hearts breek Jets se harte
SANDWICH: Blue Jets se Ntsika Bebe (links) en Simiselo Chebesha maak ’n sarmie filling van Hands & Heart se Jean Blou.  ~ Melinda Stuurman

GROOT klubrugby het hom Saterdag in Eikendal in Kraaifontein afgespeel.

Hands & Heart, Scottsdene, Blue Jets en Eersterivier was betrokke in ’n uitstekende feesviering van egte gemeenskap­sport.

Hands & Heart en Blue Jets was die laaste wedstryd nadat terwyl Rivas vir Scottsdene geskok het met ’n indrukwekkende oorwinning met 26-24.

Hands & Heart het natuurlik sy staal getoon en Blue Jets met 62-29 verslaan.

Hierdie plan om die twee Kraaifonteinse klubs, Hearts en Scottsdene, op dieselfde dag op een veld te laat speel, was tot almal se voordeel.

Meer as 1 000 mense het die aanskoulike rugby geniet.

“Dit was ’n lekker dag gewees. Dit was ’n goeie dag vir Kraaifontein se gemeenskap,” het Peter Links, hoofafrigter van Hearts, aan Son gesê.

“’n Goeie verhouding is verder uitgebou tussen ons en Scotts­dene. Dis weer ’n bewys dat ons kan en moet saamstaan om ons gemeenskap op te hef.”

Verloop

Hearts het gereeld punte aangeteken, maar hierdie gemak het teen ’n prys gekom.

Die besoekers het vyf vinnige drieë gedruk, baie teen die verloop van die spel in.

Ondanks die groot telling in Hearts se wedstryd is daar baie vraagtekens rondom die Rainbow Boys se verdediging.

Daar is darem genoeg tyd vir Links en sy hulpafrigters om die manne reg te kry vir dié jaar se Superliga B.

“Ons het hulle lekker geskrum en ons het die lynstane en vaste fasette oorheers,” het Links bygevoeg.

“Ons het gebiedsvoordeel en balbesit geniet. Omgekeerde besit het Blue Jets toegelaat om die bal wyd te speel. Hulle is ’n baie goeie span.”

As Saterdag enigsins ’n maatstaf vir dié vier spanne is, gaan hulle mededingers hard moet werk om hulle te uitoorlê.

Hulle het almal baie aantreklike en opwindende, dog gestruktureerde rugby gespeel. Dis ’n goeie beeld vir WP-klubrugby.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters