Verlede maand
Hare waai by Boland Rugbyunie-sitting
IVAN PEKEUR
Ivan Pekeur  ~ Mark Ward

DIE skote het omtrént geklap op die Boland Rugbyunie se eerste bestuursvergadering in die agt maande lange lockdown.

Nou word daar met hofsake gedreig nadat die unie se vise- president, Bennie van Rooi, en die bestuurslid Burton Niemand op Donderdag se vergadering van hul skorsing verwittig is.

Ivan Pekeur, president van die unie, het die twee bestuurslede se skorsing bevestig.

Hy het in ’n mediaverklaring op die volgende aangedring: “Die Boland het nie ’n adjunk- president nie, maar wel ’n vise- president.”

Proses

Volgens Pekeur is die twee bestuurslede tydelik geskors hangende ’n ondersoek nadat hulle na bewering vertroulike inligting aan lede van die media gegee het.

Die aangeleentheid is toe na die Boland Rugbyunie se dissiplinêre komitee verwys.

“Totdat die proses afgehandel is, is hul verpligtinge as bestuurslede opgeskort,” sê Pekeur.

Luidens die mediaverklaring gaan die unie nou nie verder oor die aangeleentheid kommentaar lewer nie.

Pekeur het ook uitgevaar teen die media-uitlatings van Piet Heymans, uitvoerende hoof van die vakbond Sports Employees Unite (SEU).

Volgens Heymans het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) met sy hulp ’n skikking bereik tussen voormalige werkers en die unie. Die ongelukkige voormalige werkers het hulle tot die CCMA gewend en ’n saak van konstruktiewe ontslag aanhangig gemaak.

“Die feit van die saak is – Heymans moet eerlik wees. Hy wil nie erken hy het die saak verloor nie. Dit is die feite,” benadruk Pekeur.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters