16 dae gelede
Ervare Wiley nou by Ceres
GROOT VIS: Die deurwinterde Wylie Seroot is nou die afrigter van die Ceres-RVK.  ~ Verskaf

DIE Ceres-rugbyvoetbalklub (RVK) is druk besig, al gaan daar nie vanjaar enige klubrugby plaasvind nie.

Die klub het Vrydag op Facebook bekend gemaak die ervare breier Wylie Seroot is aangestel as hoofafrigter vir die 2021-seisoen.

Louis Visagie, die klub se voorsitter, is in sy noppies met Seroot se aanstelling.

“Soos almal weet, word ons hoofafrigter net vir ’n termyn van ’n jaar aangestel.

“So, ons nuwe afrigter vir die 2021-seisoen sal mnr. Wylie Seroot wees.

“Ons hulpafrigters gaan soos normaal voort.

“Die volledige afrigtingspan sal met verloop van tyd bekend gestel word. Ons wens mnr. Seroot alle sterkte toe en ons hoop dat hy Ceres-RVK weer ’n span sal maak om mee rekening te hou,” lees die inskrywing.

Visagie het gister aan Son gesê: “Ek dink die Ceres-RVK se bestuur het ’n baie goeie besluit gemaak met die aanstelling van mnr. Seroot.”

Visagie meen voorts die klub kan goed vaar wanneer daar hopelik in 2021 na die speelveld teruggekeer word. Hy sê: “Dis nie net my siening nie; enige ander voorsitter van enige klub in die Boland hoop om die beste vir sy klub te hê en so ook ek en die Ceres-RVK.

“Elkeen glo maar hy kan goed vaar met die spelers en afrigters tot sy beskikking en tot by die klubkampioenskapsbyeenkoms (Gold Cup) vorder. Baie faktore en invloede speel natuurlik hierin ’n rol en bepaal dit.”

Vervang

Seroot word hoog aangeskryf. Hy het al klubs soos Bella Vista, Tulbagh, Delicious, Worcester Villagers, Hamlet en Wolseley afgerig.

Hy was ook op junior vlak ’n Boland-afrigter. Dit sal ook nie die eerste keer wees dat hy by Ceres betrokke is nie. Hy vervang Kempton Juries as hoofafrigter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters