8 maande gelede
Crusaders se Zana soek spantrofeë
Eric Zana
Eric Zana  ~ Foto Verskaf

ERIC Zana het een doel voor oë – om lid te wees van ’n Crusaders-span wat volgende jaar trofeë wen.

Zana is een van talle ervare spelers wat Ricardo Beukes, breier, vir die 2021-veldtog nadergetrek het.

Terwyl Saders se fokus die behoud van die Suidwestelike Distrikte se Superliga-titel is, is die Saldanha Top-8-titel ook hoog op die agenda.

Zana het laas jaar na die Suid-Kaap teruggekeer ná vier seisoene by die Griekwas waar hy 48 wedstryde vir die Pouboues gespeel het.

Voor sy jare in Kimberley het hy die Boland-Kavaliers in 67 stryde verteenwoordig.

Hy het ook in 2011 as speler van die Belhar-rugbyklub die Westelike Provinsie-sewesspan onder die afrigter Roger Smith verteenwoordig.

Maar toe staan sy kop huis se kant toe.

“Ek sluit my toe weer by Progress aan. Dis die klub waar ek my rugbyloopbaan begin het. Ek het my tye saam met die Griekwas en die Boland baie geniet,” laat hoor Zana.

Maar terwyl vanjaar se seisoen vir die land se klubrugbyspelers weens die Covid-19-pandemie erg teleurstellend was, het Zana eintlik by die rus gebaat.

Herstel

Die 33-jarige Zana het verlede seisoen ’n ernstige kniebesering opgedoen wat amper sy rugbyloopbaan tot ’n einde gebring het.

“Ek het volkome van die besering herstel. Die lockdown het my heelwat gehelp. Ek is besig met rehabilitasie en is reeds in die gimnasium waar ek met kondisionering besig is,” vertel Zana.

Hy sê hy sien baie uit na die nuwe seisoen.

“Ek is gefokus om Saders te help om die ligatitel te behou, asook om die Saldanha Top-8 na die Suid-Kaap se bring.

“Beslis, dit is een van my doelwitte om die Top-8-titel te wen. Dit sal vir ons in die Suid-Kaap ’n groot eer wees, maar ook bewys watter talente hier is.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters