4 maande gelede
Corona ruk oud-spelers
OP HERSTELPAD: Francois “Kaballie” Davids is die a
OP HERSTELPAD: Francois “Kaballie” Davids is die adjunk­president van Saru.  ~ Foto Verskaf

FRANCOIS Davids, adjunkpresident van SA Rugby, is onder ’n groep oud-spelers wat onlangs ná ’n reünie positief vir Covid-19 getoets is.

Die saamtrek van 1988 se Boland-span, wat die SA Cup in daardie jaar in die Athlone-stadium teen die Westelike Provinsie gewen het, is twee weke gelede by Club Mykonos in Langebaan gehou.

Luidens ’n Facebook-inskrywing deur Angelo Arendse, die administrateur van die groep “History of Saru Rugby”, het Angus Lewis, Leonard Wentzel, Ivor Myburgh, Trevor Adams, Ivan Jacobs en Steven Adonis, wat by dié saamtrek was, almal die virus opgedoen.

Jacobs, voorsitter van die komitee van die 1988-groep, sê terwyl dit waar is dat die manne die virus opgedoen het, kan daar nie met sekerheid gesê word dat dit by die saamtrek gebeur het nie.

“Ek bespreek nie graag my mediese toestand nie. Ek beskou dit as persoonlik.

“Ek kan ook nie namens die res van die groep praat nie,” sê Jacobs.

Intussen sterk Davids by sy huis in Wellington aan. Hy het laat weet dat hy baie beter voel.

Hy het Vrydag die uitslag van sy toets ontvang.

Volgens Davids het hy vroeër verlede week in die Oos-Kaap besoek afgelê.

Hy het by sy terugkeer na Kaapstad simptome getoon en het Donderdag nie goed gevoel nie. Hy het hom onmiddellik laat toets.

“Ek is baie beter en dit gaan goed met my. Soos sake staan, voel ek baie beter as Vrydag.

“Dankie vir almal se gebede. Ek glo vas ek sal dit oorkom.”

Versigtig

Davids het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om hulle by die Covid-19-protokolle te hou en die reëls te volg.

“Ons moet baie versigtig wees wat ons doen en hoe ons dinge doen.

“Ons minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het ook die virus opgedoen. So dit is orals en almal van ons is kwesbaar,” voeg Davids by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters