7 maande gelede
Boeta Siet: ’n Staatmaker
Boeta Siet (heel links agter) was 'n voorspeler-afrigter van die Primrose-rugbyklub.  ~ Foto Verskaf

BOETA Siet Kafaar, ’n veteraan-coach van die Primrose-rugbyklub, is vroeg Dinsdagoggend rustig in Port Elizabeth oorlede.

Boeta Siet was onder sy naas­bestaandes alombekend as Papa Siet.

Hoewel boeta Siet sterk verbind was aan die Primrose- en die Violets-rugbyklub, het hy as speler vir die destydse Kalk Bay Marines onder die vaandel van die Westelike Provinsie Rugbyunie op die Green Point Track as ’n woelige losvoorspeler uitgeblink.

Boeta Siet was van Kalkbaai afkomstig. Hy was uiteraard ook bekend as ’n uitstekende swemmer, maar hy sal meer onthou word as ’n staatmaker-afrigter van Primrose.

Hy was nie net ’n jare lange ondersteuner van Primrose nie, hy was ook ’n groot fan van die Violets-rugbyklub.

Sy oorlede vrou, auntie Jaynab “Jayn” Orrie, was van Claremont, waar dié twee klubs ontstaan het.

Boeta Siet was ook bekend as ’n gereelde lid van die Al Jaamia-moskee se gemeente in Stegmanweg in Claremont.

In die 1960’s is hierdie moskee gelei deur imam Abdullah Haron.

Wyle Haron was ’n Suid-Afrikaanse Moslem-geestelike en ’n anti-apartheids­aktivis.

Hy was veral bekend vir sy anti-apartheidsaktivisme in die apartheidsjare en sy daaropvolgende dood deur die veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisiemag in 1969.

Oorheers

Haron is die 1970’s en 1980’s opgevolg deur wyle Ebrahim “Sepp” Davids en Saleem Davids.

Boeta Siet was die voorspeler-afrigter en wyle boeta Cassiem “Fairy” Peters die agterlyn-afrigter van die uitstekende Primrose-span, wat die City & Suburban-rugbyunie in die 1970’s en 1980’s oorheers het.

Boeta Siet (heel links agter) was 'n voorspeler-afrigter van die Primrose-rugbyklub.

Boeta Siet is later as coach vervang deur wyle Osman “Baba” Galant en daarna deur Rushdi Magiet (’n vorige sameroeper van die Pro­teas-krieketspan).

Rashaad Magiet (president) en Igshaan Sadan (’n lewenslid van Primrose) het beplan om in Oktober saam met ’n groep oudspelers Baai toe te reis om boeta Siet se 90ste verjaardag te vier.

Hy sal inderdaad baie gemis word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters