6 maande gelede
Blomtyd vir Roses
Denzil Domoney  ~ Shafiek Mouton

DIE Roses United-rugbyklub van Wellington is in sy noppies met sy nuwe borg.

Die klub, wat ook vanjaar sy 21ste bestaansjaar vier, het vandeesweek aangekondig hy het bande met Dev­land Hyper gesmee.

Albei partye het Dinsdag dié aankondiging in hul sosiale-mediaplatforms bevestig.

“Ons by Roses United RC wil baie dankie sê aan Devland Hyper Paarl vir die nuwe borgskap. Ons waardeer die ondersteuning en sien daarna uit om dié nuwe reis saam met julle te stap,” het Roses op sy Facebook-blad aangekondig.

Denzil Domoney, die klub se voorsitter, sê hoewel die span nie tans rugby speel nie, is hulle hard besig om ’n stewige fondasie te lê vir wanneer hulle die dag weer kan speel.

“Ons werk tans hard agter die skerms om ons gereed te maak vir rugby wanneer ons die groen lig kry om weer te speel.

“Ons kry strukture in plek en ons is in die wolke om nuwe bande met Devland Hyper Paarl te smee. Hulle het ’n groeiende handelsmerk,” het die voormalige Grens- en Saru-haker aan Son gesê.

Hy sê Devland is reeds aan boord en die vennootskap is aan die gang.

“Ons bied hierdie Sondag ’n gholfdag aan by die Wellington Gholfklub en Dev­land het reeds daar ingespring om ons ’n finansiële inspuiting te gee en ook bystand te verleen met eet- en drinkgoed.

Beskikbaar

“Ons is regtig geseënd om in hierdie moeilike tye ’n vennoot en vriend soos Dev­land te bekom. Ons wil ook weer die krag in Boland-rugby wees en vanjaar is juis ’n spesiale jaar, aangesien ons 21 word.”

Volgens Domoney is daar nog enkele plekke vir die gholfdag beskikbaar.

“Manne moet gou spring as hulle wil speel, aangesien die veld feitlik vol is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters