Verlede maand
Blaser is moeg van asem skep tussen games
Jason Jaftha  ~ Gallo Images

OM EENDAG weer in die Curriebeker te blaas – dis waarop ’n amper vergete skeidsregter van George wag.

Jason Jaftha het in 2015 laas ’n Curriebeker- en Superrugbywedstryd hanteer.

Hy het in 39 Superrugbywedstryde geblaas, maar daai dae is ná die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se onttrekking uit dié Suidelike Halfrond-kompetisie straks verby.

In 2014 het Jaftha ligamente in sy regterknie geskeur op ’n Superrugby-oefenkamp vir skeidsregters. Hy het van daai besering teruggekeer, maar nóg beserings het sy tyd as een van die land se voorste blasers tot ’n einde gebring.

Sedert Mei 2018 het Jaftha weer die fluitjie begin blaas in klubwedstryde van die Suidwestelike Distrikte en heelwat skolerugbywedstryde van die Suid-Kaap se voorste rugbyskole.

Jaftha is as 14-jarige deur Abe Steenberg, die skeidsregterbestuurder van SWD, op Prins Albert se jaarlikse uitkloptoernooi raakgesien.

Hoër

“Hy het my in sy huis ingeneem en as skeidsregter begin oplei, vertel Jaftha. “Ek is hom en sy gesin ewig dankbaar. Almal het gesê ek sal dit nog op ’n hoër vlak maak.

“My eerste provinsiale wedstryd was die Vodacom-stryd tussen die Luiperds en die Westelike Provinsie in Potchefstroom, my eerste Curriebekerwedstryd was tussen die Haaie en die Bulle in Durban en internasionaal het ek die fluitjie tussen Spanje en Zimbabwe geblaas.”

Terwyl hy op die oproep wag om weer die fluitjie te hanteer, is Jaftha besig met sy familiebesigheid en hy hanteer steeds klubwedstryde in die SWD.

Jaftha sê as hy een reël in rugby kan verander, is dit vir die rolmaalbeweging.

“Die rolmaal is ’n goeie manier van drieë druk as dit korrek uitgevoer word. Die obstruksie wat daarmee gepaardgaan is wat aandag kort,” sê Jaftha.

“Miskien moet die bal heeltyd by die springer bly en nie tot agter skuif nie. Sodoende kan die teenstanders se jumper makliker die bal teiken en bykom.

“Ek wag maar geduldig vir daai oproep om weer op die topvlak te kan blaas.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters