8 dae gelede
22 bokke – en ’n scapegoat
DAMIAN WILLEMSE  ~  GALLO IMAGES

DAMIAN Willemse is Sondag uit verskeie oorde gekritiseer oor ’n verbroude doelskop teen Australië.

Soveel so dat die voormalige Springbokslot Victor Matfield Willemse se plek in die Bokke se 23-tal bevraagteken het.

“Ons was vanaand ’n bietjie af,” het Matfield ná afloop van die wedstryd aan sy mede­paneellede, Breyton Paulse en Schalk Burger, op SuperSport gesê.

“Ons moet ons nou optel; miskien selfs na die (plaasvervanger)bank kyk.

“Ek is nie seker... Damian Willemse is ’n great rugbyspeler. Is hy gereed om by Handré Pollard oor te neem as nr. 10?

“Ek bedoel – Handré het nooit ’n afdag nie, so normaalweg laat speel jy hom deur (die volle duur van die wedstryd).

“Is hy (Willemse) die regte ou wat jy wil hê aan die einde met ’n stelskop? Dit was nie ’n moeilike skop nie en hy het hom ver regs (verby) geskop.

“Moet daar nie ’n 90%-ou op die bank wees wat dié tipe skoppe kan oorsit nie.”

Korrelwerk

Matfield is egter oor die kole gehaal deur sosialemedia­gebruikers. Sommige het eerder die Bokke se nederlaag voor Pollard se deur geplaas oor sy swak korrelwerk.

Hulle het Matfield ook herinner aan Willemse se skitterende duikslag wat ’n sekere drie in die 77ste minuut verhoed het.

Die 23-jarige Willemse se veelsydigheid blyk ook in dié stadium nadelig vir sy loopbaan te wees. Dan speel hy heelagter, dan binnesenter en dan weer losskakel. Hy’t ook in November verlede jaar laas vir die WP/Stormers na die pale gekorrel.

Tim Swiel, Abner van Reenen, Pollard, Elton Jantjies en Morné Steyn is al almal bo hom as skoppers gekies.

Jonathan Mokuena, óók ’n SuperSport-kommentator en afrigter, het gister vir Willemse in die bres getree.

“Dis nogal teleurstellend om al die kritiek te hoor teen Damian. Mense vergeet dat dieselfde Damian wat die skop gemis het, ’n try saving tackle gemaak het.

“En ja, hy het die skop gemis, maar daar word min gepraat van die drie skoppe wat Pollard gemis het. Maar mense kyk nou net na die een fout van Damian.

Hy sal leer uit dié naweek,” meen Mokuena.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters