13 dae gelede
12 aangepraat ná botsing
GROOT AKSIe: Net 13 van die 20 renjaers het die Toskaanse GP voltooi.  ~ Getty Images

TWAALF van die 20 F1-ren­jaers het waarskuwings ontvang vir hul rol in die dramatiese ongeluk in Sondag se Toskaanse GP.

Stewards het die renjaers aangepraat oor wat volgens hulle die “inkonsekwente aanwending was van ‘throttle and brake’ ” in die wedren.

Kevin Magnussen, Daniil Kvyat, Nicholas Latifi, Alexander Albon, Lance Stroll, Daniel Ricciardo, Sergio Pérez, Lando Norris, Esteban Ocon, George Russell, Antonio Giovinazzi en Carlos Sainz is gewaarsku.

Die stewards het uitgewys Valtteri Bottas, wat die Grand Prix gelei en die tempo van die pak beheer het, en die ander sewe jaers wat nie gelys is nie, het voldoen aan die reëls vir die hervatting van die wedren.

“Motor 77 (Bottas) het die reg gehad om die tempo te bepaal,” het die stewards bevestig.

Noodsaaklikheid

’n F1-verklaring lui: “Die stewards erken die ligging van die control line op dié baan is uitdagend en die renjaers se begeerte om die hervatting te benut.

“Hierdie voorval toon egter die noodsaaklikheid van versigtigheid wanneer die wedren hervat word.

“Let op dat daar ’n hewige konsertina-effek was en dat dit dramaties toegeneem het namate die groep verder beweeg het.”

As gevolg van die ongelukke moes die GP drie keer hervat.

Gelukkig het albei Ferrari’s in hul 1 000ste GP die wedren voltooi.

Ongelukkig sukkel die Ferrari’s steeds. Charles Leclerc het agtste geëindig, terwyl Sebastian Vettel die 10de plek behaal het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters