Verlede maand
10 000 atlete tree aan
Stephen Mokoka  ~ _GALLO IMAGES

NADAT sowat 18 000 fietsryers laas week vir die Cape­ Town Cycle Tour aangetree het, glo die organiseerders van die Sanlam Cape Town Marathon hulle is slaggereed om Suid-Afrika se eerste groot marathon vir 2021 in die Moederstad aan te bied.

Renée Jordaan, direkteur van die wedloop, sê hulle is besig met die finale voor­bereidings in ooreenstemming met die risikobeperkingsplan teen Covid-19.

“Ons is opgewonde om die komende naweek meer as 9 000 deelnemers vir die marathon en 1 000 vir die trail-wedloop te verwelkom.

“Ons verwag ook meer as 5 000 deelnemers aan ons virtuele wedlope van 5 km, 10 km en 21 km. Langasems het nog tot môre om in te skryf,” sê sy.

Stephen Mokoka, wat reeds met twee oorwinnings in die wedloop oor 42,2 km spog, is een van die plaaslike aanspraakmakers om Sondag weer met die louere weg te stap.

Mokoka gaan in ’n hewige stryd met Belachew Amato van Ethiopië gewikkel wees.

Amato spog met ’n marathon-tyd van 2:07.55. Dit is die tweede vinnigste ná Mokoka­.

Daniel Njenga Muturi (2:09.25) van Kenia is die naaswenner in die Cape Town Marathon van 2019.

Mututi se landgenoot Emmanuel­ Oliaulo Ngatuny (2:08.22) gaan ook ’n groot bedreiging vir Mokoka inhou.

Gerda Steyn, huidige kampioen van die Two Oceans-marathon (56 km) en die Comrades-marathon (90 km), is die groot gunsteling onder die Suid-Afrikaanse vroue.

Opdraande

Al het sy haar staal in die ultra-afstande gewys, is sy op soek na haar eerste oorwinning oor die marathon (42,2km) op Suid -Afrikaanse bodem.

Steyn gaan egter in ’n opdraande stryd gewikkel wees. Sy gaan teen ?? vyf atlete te staan kom wat almal al vinniger as 2:29 gehardloop het. Die vinnigste in die veld is die Keniaan Lucy Karimi (2:24.24).

Die naaswenner van die Sanlam Cape Town Marathon in 2019, Nurit Shimels van Ethiopië, is ook terug. Sy het ’n beste tyd van 2:27.40.

Al die deelnemers gaan van Vrydag af Covid-antigeen-toetse moet ondergaan voordat hulle hul wedloopnommers kan gaan afhaal.

Die trail-wedlope oor 46 km en 22 km gaan Saterdag plaasvind en daar gaan vanjaar geen toeskouers toegelaat word nie.

Besoek gerus die webblad capetownmarathon.com vir meer inligting.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters